Die Weg

 

Die donker nag van die siel

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard” - Jakobus 1:2-3.

Daar kom oomblikke in ons almal se lewe wanneer ons reken dat ons die einde van die pad bereik het. Geen omkeer, geen terugkeer, geen deurgang meer nie. Doodloopstraat. Nie ’n greintjie hoop, lig of uitsig oor nie. Skaakmat. Geen wonder dat hierdie soort ervarings al beskryf is as die donker nag van die siel nie! Dit kan vanweë ’n verskeidenheid redes oor jou kom: gesondheid, finansies, werksomstandighede, menseverhoudings, veral eie skuld.

Dis dan wanneer geloof nie meer ’n abstrakte begrip kan wees en God bloot ’n godsdienstige teorie nie. Dis hier waar die basis van jou lewe, die anker van jou bestaan getoets en geweeg, of ten minste ontmasker word. Dit kan 'n ontstellende ontdekking wees: My hart het sy vasmeerplek nie so sterk in God as wat ek gedink het nie. Dit kan ook ’n versterkende ervaring wees, 'n terugkeer na die God van jou godsdiens. Geen wonder nie Jakobus kan sê dat ’n mens eintlik baie bly moet wees as jy in allerhande beproewings beland, want dit skei die koring van die kaf en vorm die egtheid van jou geloof (Jak. 1:2-4).

Doodloopstrate is realiteite, en skaakmatsituasies maak seer. Maar vir God is niks onmoontlik nie. Hieraan moet ons vashou in die donker nag van die siel: God se Lig lyk dalk verborge, maar dit skyn op sy helderste waar dit die donkerste is. Die opstanding is immers op sy kragtigste waar die dood op sy grouste is. Om dít te kan insien, vra egter geloof wat eg is, geloof wat juis gevorm is voor die toe poorte van die skynbaar onmoontlike. Aleksander Solzhenitsyn (Russiese skrywer, anti-Soviet aktivis en Nobelpryswenner)  bid in hierdie trant:

Wanneer my verstand uit vrees gaan staan of faal, wanneer die intelligentste mense nie verder kan sien as die einde van hierdie dag nie, en nie weet wat môre gedoen moet word nie, skenk U aan my die vredevolle sekerheid dat U bestaan en dat U sal sorg dat al die goeie paaie nie gesluit word nie.

Die donker nag van die siel moet (uiteindelik) wyk voor die helder dag van die genade.

Here God, alles om en in my is donker. Ek verstik daaraan. Stuur tog U lig dat ek mag lewe. Amen

Uit: “Vandag is gister se môre”  deur Johan Cilliers  - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css