Die Weg

 

Die mens op soek

“Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors....” - Psalm 77:7 OAV.

Die Bybel leer dat die mens in geestelike duisternis verkeer, ja selfs geestelik blind is: “Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense.”  (Jes 59:10 OAV). “Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is.... “ (2 Kor 4:4 NAV).

Die mens is ook geestelik doof: “Hulle het ore om te hoor, maar hulle hoor nie..” (Eseg 12:2). Jesus het selfs gesê: “...As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.” (Luk 16:31).

Die mens is ook geestelik dood: “Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes” (Ef 2:1).

Dit alles kom omdat die kommunikasie tussen God en die mens verbreek is. Daar is ’n wonderlike wêreld van vreugde, lig, harmonie, vrede en bevrediging waarvoor miljoene mense doof en blind is - wat dit betref kon hulle net sowel dood gewees het. Hulle soek na vrede, hulle smag na geluk, maar hulle vind dit nooit nie. Baie gooi tou op en gee hulle oor aan pessimisme. Dikwels lei hulle moedeloosheid tot die een partytjie na die ander, na alkohol, dwelms en ........

Dit is alles deel van die mens se desperate soeke om te ontsnap uit die koue werklikhede van ’n bestaan buite Christus; 'n bestaan wat met sonde besmet is. Maar terwyl hulle hul heil in hierdie wêreld probeer soek, is God daar; Hy praat en Hy roep. God stuur ook sy boodskappers van liefde uit, maar ons kan sy boodskap net waarneem as ons onsself op Hom instel. Ons moet bereid wees om sy boodskap te hoor en te gehoorsaam.

Gebed: Ons Vader en ons God, gee my weer 'n volmaakte visie van U. Maak my geestelike ore oop sodat ek net U roepstem hoor. En bevry my hart weer van die doodsgreep van geestelike onverskilligheid. Toon aan my U heerlike wêreld van vreugde, lig, harmonie en vrede wat beskikbaar is deur Christus, my Here. Amen.

Verwerk uit: “Na hoër hoogtes” deur Billy Graham. Uitgegee deur: Christelike uitgewersmaatskappy (CUM)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css