Die Weg

 

Waarom weghardloop - God veroordeel ons nie

Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur “ - Romeine 8:3.

’n Mens kan jou doodwerk of dooddrink, maar steeds angstig bly. Dit is juis weens ons angs dat ons ons toevlug in ander dinge soek. Ons hardloop weg van God af. Ironies is die woorde van Martin Gutl, wat die weerloosheid van die mens sonder God ontbloot: "Ek het God nie nodig nie! sê hulle, terwyl hulle pille nodig het en nie kan slaap nie.

Ons diepste angs is dat ons sonde uiteindelik sal veroorsaak dat ons geen toekoms het nie. Gabriel Smit verwoord hierdie angs:

In nagtelike ure kan vir ’n oomblik my soms oorval:
die waansinnige skrik dat God my nie meer duld nie;
dat God Hom onherroeplik van my afwend.
Want hoeveel keer het ek U verraai;
laat ek my nie leer, deur U vermaan nie.
U het reg om U van my af te keer.
U hande wat altyd beskermend rondom my is, gaan weg.
Die afgrond raak groot. U hande wyk.
Ek val. Ek val. My hart verstok.
Doodsweet oordek my.
O God, my God, gaan nie weg van my.
Niks kan ek sonder U
.

Paulus verseker ons dat God ons vrymaak. Die verlede kan ons nie meer veroordeel nie. Geen mens wat deur God se genade gered is, word deur God veroordeel nie: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus ]esus is nie” (Rom. 8:1).

Kyk na die kruis wanneer jy deur angs oorval word. Daar sien jy die liefde van God vir jou - tot die dood toe!

Gebed: O Here, dankie vir u onvoorwaardelike liefde, deur Jesus Christus.

Uit: “Die Onbekende Pad”  deur Annes Nel  - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css