Die Weg

 

Word stil in jou krisis

Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees” - Markus 13:11.  

Mense wat onder groot druk was en met vlieënde vaandels anderkant uitgekom het, sê dikwels: “Ek weet nie waar dit vandaan gekom het nie, maar op daardie oomblik het ek presies geweet wat om te sê." Natuurlik skei ’n mens se brein meer adrenalien af as jy in ’n krisis beland en dit maak jou skerper, maar daar is iets anders ook.

Jesus troos sy mense: as jy in ‘n krisis beland, is jy nie alleen nie. Om die waarheid te sê, as gelowige is jy nooit alleen nie. Die Heilige Gees is altyd by jou (v. 11). As jy jou geestelike ore en oë oophou, sal jy Hom hoor en sien in alledaagse dinge wat rondom jou gebeur. As jou woorde opdroog, sal Hy die woorde laat vloei. As jou moed opraak, sal die Gees jou moed gee. Daarin lê ons troos.

Maar hoe gebeur dit? Daar is nie ’n resep hiervoor nie, want die Here laat Hom nie in woorde vasskryf nie. Daar is ook geen grense aan die manier waarop die Gees ons kan help nie. Ons weet maar net die Here het ons beloof dit sal so wees. Daarom moet ons maar net ons geestelike antennes uitsteek en in die stilte van gebed en meditasie op die Gees se boodskap wag. Om in hierdie lewe dus regtig “‘skerp" te wees moet jy leer om eers stil te wees. Jy moet leer om na die Gees van die Here te luister, soms op maniere wat jy nie verwag nie.

As die krisis jou tref, gun jouself die kans om stil en kalm te word en luister. Dan sal jy ook “hoor wat om te sê”.

Uit: “Die Eenjaar-boodskap met oordenkings”  deur Jan van der Watt  - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css