Die Weg

 

Ons goed of Jesus se goed

“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom” - Hebreërs 10:25.

As ’n twaalfjarige seun het Jesus vir sy ouers, wat na hom gesoek het, gesê:  ”Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Luk. 2:49). Selfs as jong seun was sy Vader se belange Jesus se fokus in die lewe. Dis wat vir Hom saak gemaak het.

Wat maak vir ons saak - ons goed of Jesus se goed? Jesus se ”goed” het byvoorbeeld beteken dat Hy in die tempel was om te luister en vrae te vra (vgl. Luk. 2:46). Jare later het Hy self die mense in die sinagoges geleer (vgl. Luk. 4:14-15). Toe Hy na sy tuisdorp, Nasaret, toe gegaan het, het Hy ”soos sy gewoonte was na die sinagoge toe gegaan” (vgl. Luk. 4:16).

As ons ook soos ons Here en die apostel Paulus, God se belange wil dien, moet ons na die samekomste van die gelowiges gaan. Daar bestaan nie iets soos die volmaakte kerk nie, en as ons dit wel vind, moet ons liewer nie aansluit nie, anders sal ons dit bederf. Ons moet ons teenwoordigheid voelbaar maak in ons kerk. As die kerk uit ’n groep van God se kinders bestaan, belowe God dat Hy daar sal wees. Hy het gesê: ” (W)aar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle” (Matt. 18:20).

Gemeenskap is ’n baie belangrike aspek van ons geestelike lewe, want dit hou ons geloof brandend. As ’n kooltjie uit ’n vuur rol, sal dit vinnig doodgaan. Gelowiges behoort ’n aktiewe deel van ’n plaaslike kerk te wees. Dit behaag God wanneer ons individueel en gesamentlik op sy belange fokus.

Uit:"Eenjaar-Oordenkings" deur Jill Briscoe. - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css