Die Weg

 

Wat is Gebed?

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” - Openbaring 3:20.

Ek ken geen Bybelteks wat meer lig op gebed werp, as hierdie uitspraak van Jesus nie. Om te bid, is om Jesus toegang tot jou hart te gee. En dit is in die eerste plek nie ons gebed wat Jesus beweeg nie, dit is Jesus wat ons beweeg tot gebed. Hy klop. Hy wil inkom by ons. Ons gebede is altyd die gevolg van Jesus se klop aan die deur van ons hart.

Dit werp nuwe lig op ou profetiese uitsprake. “En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek” (Jes 65:24). Ja waarlik, nog vóórdat ons roep, weet Hy al wat ons nodig het.

Vanaf die ou tye is die gebed al die asem van die siel genoem. Hierdie beeld is buitengewoon korrek gekies. Die lug wat jou liggaam nodig het om van te leef, is oral rondom ons. Dit wil jou liggaam binnekom, en oefen om dié rede druk op jou uit om asem te haal. Dit is moeiliker om jou asem op te hou as om net gewoonweg in- en uit te asem. Ons kan maar net toelaat dat ons asemhalingsorgane die werk doen, sodat die lug ons longe kan binnedring om sy lewegewende krag deur die hele liggaam te versprei.

Die lug wat jou siel nodig het, omring ons óók altyd en oral. God is in Christus rondom ons, met sy menigvuldige en algenoegsame genade. Al wat jy hoef te doen is om jou hart vir Hom oop te stel. Let asseblief duidelik op die woorde van die Here Jesus. Dit is nie die gebed wat die Here Jesus na ons hart bring nie. Dit is ook nie ons gebede wat Hom beweeg om na ons te kom nie. Al wat Hy verlang is om ontvang te wil word. En Hy kom oral binne waar mens Hom nie toegang weier nie.

Soos wat lug, onmerkbaar en stil in ons opgeneem word wanneer ons asemhaal, en sy gewone werk in ons longe doen, so kom Jesus onmerkbaar in ons harte en doen sy geseënde werk. Hy noem dit “met ons maaltyd hou”. In Bybelse taal is die gewone maaltyd die simbool van intieme en gelukkige gemeenskap. Hierdie gedagte werp 'n nuwe lig op die gebed en toon ons God se bedoeling met die gebed: 'n middel tot intieme en gelukkige gemeenskap tussen God en die mense.

Om te bid is niks anders as om Jesus toegang te gee tot ons nood nie. Bid is om Jesus toe te laat om ons sorge weg te neem. Bid is om sy Naam te verheerlik te midde van ons nood. Die uitkoms van die gebed is daarom ook nie afhanklik van die krag van die bidder nie. Goddank nie! Die gebed maak dit vir Jesus moontlik om met SY krag in ons te werk. As ons maar aan Hom toegang wil verleen. Hy wat aan ons die voorreg van die gebed gegee het, ken ons deur en deur. “Want Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Ps 103:14). Om te bid is dus niks anders nie as om die deur van ons hart wyd oop te maak vir Hom. En dit vra geen krag nie, maar is slegs 'n kwessie van wil. Wil ons hom toegang gee tot ons nood? Dít is die enigste troos en fundamentele vraag met betrekking tot die gebed.

Bid is oneindig meer as woorde wat uitgespreek word. Dit is iets wat reeds aanwesig is in die siel voordat die woorde gevorm word. En dit bly in die siel, ook nadat die laaste klanke uitgespreek is. Dit is 'n saak van die hart; 'n bepaalde houding van ons hart teenoor God; 'n houding wat Hy onmiddellik herken as 'n gebed wanneer 'n mens 'n beroep op Hom doen.

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom 8:26).

Dr O Hallesby (Het Gebed).


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css