Die Weg

 

Luister en doen ...... soos Jesus

'Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: Hy is soos 'n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgegrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit hom nie beweeg nie, want die huis was goed gebou. Maar as iemand luister en nie doen wat Ek sê nie, is hy soos 'n man wat sy huis bo-op die grond gebou het sonder 'n fondament. Toe die vloedwater dit tref, het dit dadelik ingestort, en daardie huis het een groot puinhoop geword.”' - Lukas 6:47-49 NAV.

'n Mens se geestelike fondamente is belangrik, want dit is wat jou in storms staande moet hou. Ons almal se geestelike huise word soms deur storms getref. Ons word almal hartseer, beleef teleurstellings of beland in krisisse. Die groot vraag is egter of jou geestelike huis gaan bly staan en of dit gaan wegspoel. Dit hang alles van jou fondamente af.

Geestelike fondamente bestaan uit ’n kombinasie van luister en doen. Ons moet luister na wat die Here sê en doen wat Hy vra. As een van die twee kortkom, verbrokkel die fondament. Daar is mense wat graag luister, maar nooit sover kom om te doen nie. Hulle fondamente is niks meer as sand nie.

Wanneer jy werklik na God luister, sal jy besef die geheim van ware lewe is by God te vind en nie in die wêreld nie. Wêreldse dinge moet nooit vir jou so belangrik word dat dit jou hart steel nie. Jou hart moet altyd God s’n bly. Die ritme van jou hart moet God s’n volg. Jy moet op dieselfde manier as God na dinge kyk en sy wil moet ook jou wil wees. As jy so na Hom luister, sal jy in pas met Hom kom. Dan sal jy sommer ook weet hoe om die regte dinge te doen.

Dit is hierdie ingesteldheid en toewyding wat maak dat ons kan doen wat die Here vra. Jy sal jou kop kan optel en selfs in moeilike omstandighede steeds op God se pad bly loop. Jy sal krisisse makliker kan hanteer, want jy sal weet geen krisis is groter as God nie. Op dié manier sat jy werklik kan leef, ook in die storms.

Uit: “Die Eenjaar-boodskap met oordenkings”  deur Jan van der Watt  - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css