Die Weg

 

God is steeds daar in donker dae

Hierdie boodskap is saamgestel uit 'n preek van ds Maarten van Helden. Gaan lees gerus 'n transkripsie van die preek hier: www.dieweg.co.za/artikelkategorie/diewegartikel84.html om die volle betekenis van hierdie boodskap te kry. Of gaan kyk by “God is steeds daar in donker dae” onder “Die Lewe” op Die Weg se webwerf.

.........................................

'Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”' - Job 1:20-21.

Die Engelse woord “train smash” word soms gebruik om 'n groot ramp of terugslag aan te dui. En dit is wat hier met Job gebeur - 'n treinongeluk. Job se lewe verongeluk omtrent. En ons dink dit gebeur altyd net met ander mense – maar dit kan ook op ons pad kom. Die boodskap van Job is dat mense in hierdie tyd en wêreld waarin ons leef, nie immuun is vir 'n groot “train smash” nie.

Hoe kan jy self by die punt kom om te sê: “die Here het gegee en die Here het geneem, prys die Naam van die Here”?

Solank as wat jy iets op aarde besit, stoflik of geestelik, moet jy dit nooit as vanselfsprekend  aanvaar nie. Jy moet elke dag kan sê: wat ek is en wat ek het, is net genade. Jy moet saam met Job kan sê: “Here U kan gee, U kan neem, ek sal U Naam prys. Ek verstaan dit miskien nie. Maar ek weet alles wat ek het is gawes van Bo. En ek weet dat U om Christus wil, in watter krisis my lewe ook al instuur, U sal my nooit verlaat nie. U die almagtige sal bepaal in hoeverre ek hierdie proses nodig het om voorberei te word vir die ewige lewe” - dis geloof.

Hoe moet jy dit hanteer as 'n Christen wat in Jesus Christus glo? Jesus wat vir jou deur God verlaat is, sodat God jou nooit sal verlaat nie. Hoe moet jy dit hanteer as hierdie treinongeluk met jou gebeur?

Ons hoofstuk sê vir ons: behou jou geloof en bely jou geloof. Glo dat God die groot prentjie sien. Ons kyk na 'n enkele foto en dink ons verstaan, ons sien partykeer net die foto van ons lewe, van die ongeluk, maar God sien die totale prentjie van die wêreld. Hy het die wêreld in sy hand. Geloof is dan: wat ek nie weet nie, weet Hy. As jy dit doen, sal bitterheid jou nie verwurg nie. Jy sal nie kwaad word vir almal en die wêreld om jou nie. Jy sal nie ander mense blameer en selfs die blaam op God plaas nie.

Maar hierdie woorde van Job is nie net 'n belydenis nie. Kyk maar mooi: “die Here het gegee, die Here het geneem”, is ook 'n gebed. Moenie ophou om te bid nie, moenie só skrik vir dit wat gebeur, dat jy ophou om te bid nie. Moenie so verbitterd raak dat jy jou afsny van die kommunikasie met die Here en sy kerk nie. Want wat die Here eintlik hier in hierdie gedeelte vir ons wys, en Hy wys dit op soveel plekke in die Skrif, is: “Ek is by julle”, selfs as julle in die storm op die see is (Mark 6:48). God het die wêreld nie versaak nie.

En terwyl dit nog nie met jou gebeur het nie; en terwyl jy vandag op jou voete staan, moet jy jou voorberei sodat jy dit kan hanteer as dit op jou pad kom. En daarom: jy gaan nie maar Sondag kerk toe sodat jy 'n mooi woordjie kan hoor en 'n geestelike ervaring kan kry nie. Jy word daar toegerus vir die treinongeluk wat jy in jou eie lewe gaan sien, of in die lewens van die mense om jou. Jy moet jou daarvoor voorberei, sodat jy gereed sal wees om die treinongeluk van hierdie gebroke wêreld in jou lewe te kan hanteer en te verwerk.

Ek gaan kerk toe en hoor weer die beloftes van die Here en van sy evangelie en behou hierdie vertroue deur elke dag van Hom te lees. Wéét jou lewe is 'n gawe van die Here. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Terwyl jy op Hom wag, kan jy sy boodskap gaan lees in Job 38, wanneer Job uiteindelik soos 'n klein seuntjie met sy pa saam deur die tuin loop – God sy Vader. In hoofstukke 38-41 is dit asof die Here vir Job aan sy hand vat soos 'n seuntjie en saam met hom stap en sê: ”het jy gesien hierdie blomme, het jy gesien hierdie diere, het jy gesien hierdie.. en hierdie ... en hierdie ... wat Ek alles gemaak het”. En die seuntjie dink sy pa is die grootste, wonderlikste pa op die aarde. Dis hoe die hoofstuk moet lees. God stap met sy kind deur die skepping en sê: “Het jy gesien waar ek My sneeu bêre en waar die wilde donkies kos kry en waar die takbokke lam? Het jy gesien dis wat Ek doen”. Sodat jy verwonderd bly: ek het die grootste, wonderlikste pa in die wêreld. Dit is hoe jy dit moet aanpak, saam met die Here deur hierdie ongeluk stap en sê: My God, hierdie grote God, wat kan gee en kan neem, ek sal Hom prys in lewe en in sterwe.

Hy sê vir my, ek is nie immuun vir 'n ongeluk nie, vir 'n krisis nie, vir skade nie, vir gevare nie. Ek is nie immuun vir die lewe se ongelukke nie, maar ek hoef nie alleen te staan nie. Ek is nie alleen nie. Die Here is by my.

Jy is nie alleen nie. Mag die Here jou ook daarin toerus en aan jou sy vrede gee.

***
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css