Die Weg

 

Om te bid - gebedsinspanning

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” - Filippense 4:6.

Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” - 1 Korintiërs 2:14 OAV.

As ek op my lewe terugkyk, het ek my hemelse Vader dikwels bedroef gedurende die 25 jaar wat ek sedert my bekering, met Hom saamgeloop het. Maar my grootste sonde hou verband met my verontagsaming van die gebed. En dit is die oorsaak van al my ander sondes: die kwade wat ek gedoen het en die goeie wat ek nagelaat het. Die ontelbare geleenthede vir gebed wat ek nie gebruik het nie beskuldig my al hoe meer; die vele antwoorde wat God my sou gee, as ek maar net daarom gebid het!

Waarom faal ons so erbarmlik met bid? Ek dink dat ons aan onsself moet toegee dat dit soms moeilik is om te bid. Om te bid, om waaragtig te bid, kos inspanning. Dit is natuurlik niks vreemds vir die natuurlike mens om te voel dat die gebed inspannend is nie. “Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God” ( Rom 8:7 NAV).

Die natuurlike mens mag soms 'n verlange voel om te bid wanneer hy in gevaar verkeer of hom in 'n skielike vrome gemoedstemming bevind. Maar hy kan nie daartoe kom om daagliks en gereeld te bid nie. Hy beskou gebed as 'n loodsware las waarvoor hy nie altyd die tyd het nie, en as hy wel daartoe kom, doen hy dit uit 'n soort pligsbesef omdat hy meen dat God dit van hom verwag.

Vir die geestelike mens is die lewe een van ernstige, volhardende gebed. Ons tye van gebed behoort die gelukkigste ure van ons lewe te wees.

Aanvanklik is dit wel so nadat ons tot bekering gekom het. Maar na 'n tyd begin ons probleme met ons gebedslewe ondervind. Bid word vir ons 'n las, 'n inspanning. Die gebed, wat eers die vrye, gelukkige, dankbare gemeenskap was van die verloste siel met sy God, word al hoe meer 'n plig. Hoe meer die gebed vir ons 'n inspanning word, hoe makliker is dit om dit te verontagsaam. Die noodlottige gevolge vir ons geestelike lewe bly dan ook nie uit nie. Eers word ons hart wêreldgesind en raak ons al hoe meer vervreemd van God en het ons al hoe minder om met Hom te bespreek; dan volg 'n onwillige hart wat gemaklik 'n verskoning vind om nie te bid nie. Ons innerlike lewe gaan agteruit. Ons verdriet oor die sonde word nie langer eerlik voor God bely nie. Daardeur word ons geestelike uitsig vertroebel en kan ons nie langer duidelik onderskei wat sonde is en wat nie. Uiteindelik as ons bid, word dit net leë woorde wat ons gebede verstik.

As die gebed tot ons seën wil dien, moet ons in die eerste plek opreg wees en nie begin om ons swak gebedslewe te verontskuldig en te verdedig nie. Ons moet ons swakheid insien; erken dat ons hier 'n probleem het wat ons nie uit eie krag kan oplos nie. Om voluit in die gebed te leef, om daagliks met 'n gewillige gees te bid, met vreugde, met dankbaarheid, met opregte aanbidding, lê buite die natuurlike vermoë van die mens. Daarom kom die Heilige Gees ons tot hulp: “Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees” (Judas 1:20 NAV).

Alles in die lewe het sy eie wette. Waar hierdie wette gevolg word, is die lewe sterk, gesond, gemaklik, oorvloedig en vrugbaar. So het ook die gebedslewe sy eie wette. As ons dit verbreek, as ons bid teen die gedagte en die norme van die gebed in, sal ons gebedslewe moeilik, inspannend en vrugteloos wees. Maar as ons die wette volg wat die gebed regeer, wat God self vir ons gegee het toe Hy aan ons die gebed gegee het; as ons dit nakom en gehoorsaam, sal ons gebedslewe gesond en normaal wees; sal dit sodanige vrugte dra dat dit 'n voortdurende aansporing sal wees tot meer gebed.

(Word vervolg)

Dr O Hallesby (Het Gebed) – effens aangepas.


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css