Die Weg

 

Om te slyp en geslyp te kan word

“Yster slyp yster, vriende vorm mekaar” - Spreuke 27:11.

Wees naby genoeg en hard genoeg om jou vriend te kan slyp.
Wees naby genoeg en sag genoeg om self geslyp te kan word.

Daar is min dinge in die lewe wat dieselfde bly. Alles is aan die verander. Dit kan positief of negatief ervaar word, maar dit kan jou ook in ‘n positiewe of negatiewe rigting laat groei of beweeg. Daar is egter ‘n verantwoordelikheid by elke gelowige oor hoe hulle verander. Ons is nie maar net aan die gemeenskap en invloede oorgegee om soos ‘n klip in ‘n waterstroom voortgespoel te word nie!

Die positiewe woord wat die wysheidsboek gebruik is om te VORM, of gevorm te word. En daarin het vriende ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Ons behoort soos yster te wees. Met die eerste lees, klink dit hard en koud – soos yster! Moet ons mekaar op so ‘n manier vorm?

Daar is drie dinge noodsaaklik in die vorm van mekaar:
     * Vriende moet naby genoeg aan mekaar leef, omgee, betrokke wees, openheid hê, sodat hulle mekaar wel kan beïnvloed.
     * Vriende moet soms hard soos yster wees om werklik die ander een te kan slyp. Waar foute gemaak word, afgedwaal word van die pad van die Here, moedswillig met ‘n verkeerde optrede volhard word, kan nie op ‘n sagte manier opgetree word nie. Dan moet ‘n goeie vriend hard soos yster wees om die verkeerde vorm weg te slyp.
     * Vriende moet ook soms ‘n sagtheid hê, ‘n bereidwilligheid om geslyp te word. Wie koppig die goeie invloed van vriende teenstaan is dwaas.

Jesus het sy dissipels sy vriende genoem, so was Abraham ook ‘n vriend van God genoem. Hy het reguit, eerlik en opbouend met hulle gekommunikeer. Sy slypwerk was noodsaaklik om hulle te vorm tot goeie instrumente in sy diens.

Wees jy vandag soos yster, wat naby genoeg aan jou vriende beweeg, sodat jy kan slyp en self geslyp kan word.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 5/8/2013)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css