Die Weg

 

Geloof laat mure omval

Toe skreeu die volk, en hulle het op die horings geblaas; en toe die volk die geluid van die horing hoor, het die volk ‘n groot krygsgeskreeu aangehef; en die muur het op sy plek ingeval, en die volk het in die stad geklim, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem.” - Josua 6:20 OAV.

Die HERE was self die aanvoerder toe die Israeliete Jerigo met sy hoë mure moes inval. Al wat Hy van die Israeliete vereis het, was om op Hom te wag, Hom te gehoorsaam, en in geloof op Hom te vertrou. God sou op die regte tyd die aanval lei en die oorwinning vir hulle behaal. "Toe het die HERE vir Josua gesê: Kyk, Ek gee Jérigo met sy koning en dapper helde in jou hand. Julle moet dan om die stad trek, al die krygsmanne; trek die stad een maal om; so moet jy doen ses dae lank” (Jos 6:2-3).

Elkeen van ons kom een of ander tyd voor jou eie mure van Jerigo te staan wat jy moet oorwin, omdat jou eie toekoms, jou weg, agter die mure van hierdie Jerigo lê. Maar hoe hoog of solied hierdie mure vir jou mag lyk, hoe reusagtig die hindernisse en probleme ook al skyn te wees, by God se aanraking sal dit soos klei inmekaar tuimel.

Maar alles gebeur nie onmiddellik nie. Israel moes 'n week lank wag, en ons moet dalk langer wag. Om te wag toets ons geduld en volharding in die geloof.   

Maar God verlang ook gehoorsaamheid van ons. Die Israeliete sou sekerlik nie verstaan het waarom hulle herhaaldelik om die stad moes loop nie. Maar hulle hoef ook nie te verstaan het nie, want die HERE het net van hulle verwag dat hulle sy opdrag sou gehoorsaam. En let ook op die orde van die prosessie, naamlik, eers die priesters voor die ark, dan die krygsmanne. Ons moet ons optredes ondergeskik stel aan die pas van God. Ons moenie oorhaastig wees in ons optredes nie. Ons moenie ongeduldig raak soos koning Saul nie. Hy het in sy ongeduld gesondig en daarom uitdruklik teen die bevel van die HERE gehandel. (Lees 1 Samuel 13:8-13).

Ten slotte breek die tyd aan van jubelende vertroue. Daar was geen huiwering of onderdrukking van emosie toe die krygsmanne begin skreeu het nie. Die Woord van God, soos deur Josua aan die volk oorgedra, het alle twyfel en vrees weggeneem. Die krygsgeskreeu was met volle oortuiging, en dit het gebeur volgens hulle geloof: “Deur die geloof het die mure van Jérigo geval” (Heb 11:30). Daar is geen mure wat die uitroep van geloof kan weerstaan, wanneer God sê dat die tyd daarvoor gekom het nie.

FB Meyer

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css