Die Weg

 

Loop naby God

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer” - Filippense 1:9-11.

Dinge loop soms maar verkeerd; dit is hoe die lewe is. As iets slegs ons tref, bid ons gewoonlik ernstig en soek God se hulp. As dinge dan nie uitwerk soos ons dit wou gehad het nie, begin ons God bevraagteken. Ons begin aan Hom en sy liefde twyfel.

Paulus was in so ‘n situasie. Hy was in die tronk, nie omdat hy sleg was nie, maar omdat hy vir die Here gewerk het. Dit het veroorsaak dat sy gemeente God begin bevraagteken het. Paulus is so ’n goeie apostel, waarom help God hom dan nie? Wat het nou verkeerd geloop? Maar selfs in hierdie omstandighede bly Paulus van een ding seker: “God sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees."

Die feit is: God kyk verder as jy, sien meer raak as jy, weet beter as jy wat vir jou die beste is, al hang die vraagtekens swaar in jou gemoed. Daarom is Hý God en nie jy nie. Die kuns van die lewe is om Hom te leer vertrou, selfs al pas alles wat Hy doen nie altyd by jou planne in nie. God sal nooit aan jou ontrou wees nie; Hy het dit beloof. Jy moet ook nooit ontrou aan Hom wees deur te dink dat Hy jou vergeet het nie.

Wanneer dinge verkeerd loop, moet jy juis nader aan God loop, al is jy nie altyd seker waarheen Hy jou lei nie. Jy kan met vertrou weet dit is die regte pad.

Uit: “Die Eenjaar-boodskap met oordenkings”  deur Jan van der Watt  - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css