Die Weg

 

Moenie mislei word nie (1) - weet julle dan nie?

Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” - 1 Korintiërs 6:9-11 OAV.

Die teks begin met die woorde: "Weet julle nie?" In vers 2 van hierdie hoofstuk vra Paulus die Korintiërs op dieselfde manier: "Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie?". Dan weer in vers 3: "Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie?" En nou hier in vers 9 die derde keer: ”Weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?

Die Korintiërs moes dit geweet het, maar hulle het dit blykbaar vergeet of geïgnoreer. Dit is dikwels ook die probleem met vandag se Christene. Dit is soos met kinders wat die pad huistoe eintlik goed ken. Soos kinders maar doen, het hulle begin speel en verdwaal geraak. As die ouers hulle uiteindelik vind, vra hulle vir die kinders: “Hoe kan dit wees dat julle verdwaal het? Ken julle nie die pad huistoe nie? Weet julle nie waarlangs die weg loop nie?” Natuurlik het hulle dit geweet, maar hulle het 'n ander weg probeer, en dit het verkeerd geloop.

Christene ken die Weg, ons ken ons Here, ons ken sy Woord. Soms wil ons egter beter weet en soek dan na alternatiewe. Maar daar is maar een weg tot redding, en dit is Christus en sy gebod. Hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh 14:6).

Paulus vermaan die gemeente in Korinte om nie die verkeerde rigting in te slaan en die weg van die wêreld te bewandel nie. En dan geld hierdie vermaning ook vandag nog vir ons. As volgelinge van Jesus moet ons sy wese weerspieël en wanneer ons onreg ly nie kwaad met kwaad vergeld  nie (1 Kor 6:6-8). Ons eerste prioriteit moenie wees om ons eie regte en besittings, of ons eie eer te beskerm nie, maar ons moet begeer om die beeld van Christus uit te dra. “Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word; en soos 'n lam wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie sy mond oopgemaak nie”(Hand 8:32). Hy het nie kwaad met kwaad vergeld nie, maar het eerder onreg gely as om onreg te doen. Die Korintiërs het die teenoorgestelde gedoen, hulle het hulle soos die wêreld gedra, mekaar voor die regbank gesleep en vir hulle eie regte geveg (sien1 Kor 6:6).

Dit is hierdie toestand waarin die gemeente van Korinte verkeer as die apostel uitroep: "Weet julle nie?"! Weet julle dan nie, dat ons as gelowiges in 'n ander gemeenskap lewe nie? Die kerk van Christus (die gemeenskap van gelowiges – wat ook die bruid van Christus genoem word) volg heeltemal ander beginsels. Sy lewe volgens totaal ander norme as die ongelowiges. Die ongelowiges lewe volgens die beginsels van hierdie wêreld, maar ons leef na die wet van Christus (Gal 6:2). Daarom geld hierdie wekroep ook vir ons: “Weet julle nie?”.

(word vervolg)

ds Wolfgang Wegert (Lasst euch nicht irreführen)

 


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css