Die Weg

 

In die geslote binnekamer

Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde........ want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” - Mattheus 6:6 OAV.

Binne 'n gesonde gesinsverband bestaan daar 'n innige verhouding tussen ouer en kind, 'n soort heiligdom, waartoe geen buitestaander toegang het nie en waarvan die res van die wêreld uitgesluit is. Ouer en kind is voortdurend in verborge voeling met mekaar en 'n enkele blik of verandering van stemtoon is soms voldoende om 'n baie gevoelige boodskap oor te dra. Omdat die ouer ingestem is op die behoeftes van die kind, hoef die kind soms nie eers te vra as hy of sy iets nodig het nie. En die ouer behou natuurlik die reg voor om “nee” te sê nog voordat die kind eers die mond oopgemaak het, omdat die ouer besef aan watter gevare die kind homself/haarself kan blootstel.

Hierdie is ook die beeld van die verborge verhoudings wat daar tussen ons en ons hemelse Vader behoort te bestaan. Baie mense ondervind dan ook werklik wat dit beteken om 'n heiligdom te besit waaruit die wêreld verban is en waar die siel ongestoorde gemeenskap met die Here kan beoefen. Dit is wat 'n mens onder die geslote binnekamer verstaan. Die vermoë om jou tydelik van alles in die wêreld te onttrek sodat jy deur die kragtige werking van die Heilige Gees in 'n geestelike eenheid met God kan verkeer.

Ons hoor dikwels mense sê “ons gaan 'n bietjie wegbreek”, en daarmee word bedoel om al die sorge van die werkplek en die huisomgewing opsy te skuif en ver weg te gaan ontspan. Daar is egter 'n ander wegbreek geleentheid wat baie nader is en meer vrugbaar is vir die siel. Dit is om daagliks met jou gees vanuit jou omgewing weg te breek na jou hemelse Vader toe. Watter beter plek is daar om rus vir jou gemoed te kry as by Hom? Want is dit nie juis Hy wat die wêreld en jou lewe bestuur nie? En wanneer ons rus  vind by Hom, begin ons ook die “hoekoms” en die “waaroms” van die lewe te verstaan. Dan kan ons saam met die Psalmdigter sê: “Dit gaan goed met die mens wat deur U opgevoed word, Here, vir wie U onderrig in u woord en vir wie U rus gee na tye van teëspoed” (Ps 94:13 OAV).

En hierdie ongestoorde gemeenskap met die Vader vind plaas deur die gebed. Ons lees dat Jesus ook Homself van die wêreld onttrek het om te gaan bid:  “En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid” (Mat 14:23) en ook “Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid” (Mat 26:26).

Die gebed, meer as iets anders, behoort die belangrikste plek in ons daaglikse lewe in te neem. Deur die gebed tree ons in heilige tweegesprek met die Vader en luister ons na sy woord. Ons bid in die wete dat Hy na ons sal luister, omdat Hy Hom oor ons ontferm: “Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien” (Ps 103:13 NAV). Ons Vader wat die verborge nood en die onuitspreeklike versugtinge van ons harte ken nog voordat ons vra: “want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Mat 6:6 OAV). Dan luister ons ook as Hy “nee” sê omdat Hy weet wat goed is vir ons, en dan dank ons Hom daarvoor. En van dank gepraat, dank ons Hom vir al die seëninge wat Hy op ons pad bring, of aanvaar ons alles maar as vanselfsprekend?

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Mat 5:3 NAV).

- dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css