Die Weg

 

Om deur kennis nie meer rondgeslinger te word nie

Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat” - Lukas 4:14-15.

“Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi” - Lukas 4:28-29.

Na Jesus se doop en versoeking het Hy na Galilea terugkeer. Dáár is Hy met groot welwillendheid ontvang. Almal het met lof van Hom gepraat. En die oë van almal was op Hom gerig (Luk 4:20). “Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond” (Luk 4:22). Maar toe al hierdie welwillende mense nie gekry het wat hulle wou gehad het nie, het daar van die welwillendheid niks oorgebly nie (Luk 4:28-29).

Ons sien hierdie plotselinge omswaai van die gesindhede van mense heel dikwels in die Bybel. Dink maar aan die menigte wat Hom besing het toe Hy Jerusalem binnegekom het: “Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!” (Luk 19:38 OAV). Dan 'n kort tydjie daarna: ”Kruisig, kruisig Hom” (Luk 23:21 OAV). Daar was sekerlik van dieselfde mense wat die eerste en die laaste uitgeroep het. Daar is niks so veranderlik as die mens nie. “... Is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.... so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë” sê Jakobus. Elia vra “Hoe lank hink julle op twee gedagtes?” (1 Kon 18:21). Kom daar dan nooit einde aan die mens se twyfel en wispelturigheid nie?

Is dit nie by ons ook so dat ons juig in ons God as alles goed gaan nie? Maar, o wee, as alles om ons begin wankel en as die beproewinge kom, dan murmureer ons en kruisig ons ook Jesus vir die tweede keer in ons gedagtes!! In wese verskil ons niks van die mense wat in die Bybel beskryf word nie.

Hoeveel keer moet ons nog in hierdie lewe rondgeslinger word voordat ons sal leer om onder alle omstandighede in ons God te juig? Dat ons, wanneer die lewe begin druk, nie agter die valse hoop van mense aanloop nie. Want al sou niks meer oorbly van alles wat die aarde ons kan bied nie, dan bly die grootste seën oor dat God, as die ewige Getroue, ons nooit sal verlaat nie.

Daarom is dit nodig dat ons moet streef na die ware kennis van Jesus Christus en ons God: “totdat ons almal die eenheid in die geloof en in die kennis van die Seun van God bereik, 'n volwasse mens word, tot die mate van die volle statuur van Christus; sodat ons nie meer kindertjies is wat deur golwe rondgegooi en deur elke wind van lering heen en weer gevoer word deur die bedrieëry van mense, deur hul bedrewenheid in misleidende geknoei nie, maar laat ons, deur in liefde die waarheid te praat, in alle opsigte in Hom ingroei, Hy wat die Hoof is, naamlik Christus”  - Efesiërs 4:13-15 (Interlineêre Bybel - Direkte vertaling).

-dw-

(Met aanhaling uit: Niet alleen van brood .... Bijbels dagboek voor vreemdelingen)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css