Die Weg

 

As ek nie geglo het nie ......

o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die HERE sal sien in die land van die lewendes nie….!” Psalm 27:13 OAV.

Hierdie sin is nooit voltooi nie, want daar kort nog iets. Maar ons verstaan wat Dawid hiermee wou sê!

As ek nie geloof gehad het nie, as ek nie geglo het nie ...... sê God se kinders. En dan begryp ons. Sonder geloof sou ons vergaan, sou ons nie met die lewe kon volhou nie, sou ons verseker moed opgegee en geknak het.

Dawid het dit nie maklik gehad toe hy Psalm 27 gedig het nie. Die hele psalm spreek van sy stryd en leed. En tog .... te midde van al die moeite roem hy in God. Hy hou aan die HERE vas. En vir hom is dit alles. Hy het vir God en daarom kan hy met sy lewe voortgaan.

Dit is heel dikwels so dat die die grootste en diepste lewensleed eers ondervind word as die jare met jou aanstap. Wanneer die agtermiddag van jou lewensdag aanbreek en die skaduwees oor jou lewenspad lank begin rek, begin die skrape wat jy langs dié pad opgedoen het, opnuut brand.

Maar as jy dan terugkyk ..... sê jy dan dieselfde as Dawid? O, as ek nie geglo het nie!

Die geloof is 'n krag vir hulle wat die geloof besit. 'n Ongelowige sal dit nooit kan verstaan nie. Hy het ook wel deur die lewe gekom deur sy pad oop te veg. Maar die innerlike vrede, die diepe blydskap van binne, die wete dat alles wat gebeur het en nog kan gebeur, tog goed is en dat God nooit 'n fout maak nie - dit ken die ongelowige nie. Vir hom sal dit, wanneer die aandskemering oor sy lewe daal, wanneer hy finaal sy oë op hierdie aarde moet sluit, lyk of alles om hom verbrokkel.

Maar die kind van God bely dat God hom vashou. Dat die pad wat hy deur sy lewe geloop het tog die regte een was. Hy was geen swerwer nie, maar 'n pelgrim met 'n vaste doel...... om uiteindelik die kroon van die lewe te ontvang (Open 2:10b OAV).

Wie in geloof die lewe uit God se hand aanvaar en bereid is om voluit te leef, sal nie knak nie, selfs nie by die laaste asemteug nie. Want God hou jou vas. O, as ek nie geglo het nie ......

Uit: Avondzegen van ds W Schouten en ds S de Vries (verwerk).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css