Die Weg

 

Ontdek God - vir die eerste maal en weereens

Die woord van God is lewend en kragtig” - Hebreërs 4:12.

Is daar 'n God? Ja ... maar hoe kan ons Hom leer ken?

Die Bybel vertel van die God wat van die begin af daar was en alles gemaak het. Sy voetspore lê tussen mense en hulle daaglikse ervarings. Daar sien ons sy handewerk en hoor ons sy stem.

Ons leer God veral ken as die God van sy volk. God het met Abraham en sy familie 'n ooreenkoms gemaak: Hy sal vir hulle 'n God wees en hulle moes vir Hom 'n volk wees, net sy mense wat na Hom luister en doen wat Hom gelukkig maak (soos die wet vir hulle voorskryf).

Dit is hier, tussen sy mense in hulle geskiedenis, waar ons God ontmoet. God sit nie eenkant nie. Nee, Hy beskerm hulle, lei hulle, versorg hulle, is liefdevol en getrou teenoor hulle ... en het ook baie liefdevolle geduld as hulle opstandig begin word. Hy vergewe oor en oor. Maar God se geduld kan ook opraak en dan kom sy liefde in die vorm van straf, veral as mense op geen ander manier na Hom wil luister nie.

'n Mens kan God nie in een sin saamvat nie, want in die geskiedenis leer ons baie verskillende gesigte en sye van Hom ken. Maar tog skitter sekere van sy eienskappe helderder as ander, soos dat Hy liefdevol, genadig en getrou is. Hy los sy mense nie, al los hulle Hom soms . . . Hierdie ongehoorsaamheid van sy mense het uiteindelik op die ballingskap in Babilonië uitgeloop. Ja-nee, God se geduld het ook grense.

Maar uit genade het God sy mense weer uit die ballingskap teruggebring, want Hy is immers die God aan wie al die krag en mag behoort en daarom ook die toekoms. Deur sy profete het Hy beloof dat Hy op 'n spesiale, maar nuwe manier, by sy volk sou wees.

Dit het waar geword ... in Jesus. God het deur Jesus die grens tussen die hemel en aarde kom deurbreek. Nou kon mense die onsigbare God regtig sien en hoor. Wie na Jesus kyk, kon God sien optree en sy hart hoor klop. God se Seun het sy mense uit die sonde kom haal, want wie in Hom glo, sal die ewige lewe wat God beloof het, kry. Die wonders wat Jesus gedoen het, en veral sy opstanding, het gewys dat Hy werklik van God af kom, want wie anders as God kan die poorte van die doderyk so in stukke breek? Sy leer van liefde wat altyd maar net vir God gelukkig wil maak, het iets van God se paradys in die wêreld teruggebring. God se volk was nou weer saam met God op pad ... na 'n ewige toekoms saam met God.

Toe Jesus terug is na sy Vader toe, het God se Gees agtergebly ... in elkeen wat die Goeie Nuus van God omhels. In gewone gelowiges het God se Gees sy woonplek, tempels, gemaak. Deur die glimlagte en goeie optrede van gewone gelowiges vloei die krag van God daagliks in die wêreld in. God is nie meer ver nie. Hy is nou naby, so naby soos die naaste kind van God aan jou.

So leer ons God ken, nie deur abstrakte teorieë nie, maar deur ervaring . . . ons lees daarvan op elke bladsy van die Bybel. God is nie teorie nie, maar leef tussen ons, in ons lewens, in die klein en groot dinge wat met ons gebeur.

Uit: Die Bybel in 40 dae deur Jan van der Watt. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css