Die Weg

 

Geloofsmoed - om te handel uit die moed van jou oortuigings

En die koning van Egipte het met die Hebreeuse vroedvroue - die een se naam was Sifra en die ander se naam Pua - gespreek en gesê: As julle die Hebreeuse vroue by ‘n geboorte help, moet julle na die geboortestoel kyk: as dit ‘n seun is, maak hom dood; maar is dit ‘n dogter, laat haar lewe. Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe.” - Eksodus 1:15-17 OAV.

'n Mens se moed kom nie noodwendig net te voorskyn waar 'n mens jouself met groot gebaar in die stryd werp nie. Om moed te toon, is om te doen wat jou gewete aan jou opdra waar jy jou ook al bevind. Sommige se moed het aan die lig gekom en hulle is as helde vereer. Maar daar is baie mense wie se moedige dade in stilte verrig word, sonder dat dit ooit rugbaar of sigbaar word. Moed kom nie net te voorskyn as 'n fisiese handeling nie; daar is ook moed van denke, van innerlike stryd, van wag en van geloof.

Die boek Eksodus begin sy verhaal met die vermelding van die moedige dade van twee vroue, Sifra en Pua. Hulle geloofsmoed kom tot uiting in hulle belydenis en hulle vertroue.

Israel moes die Egiptenare onder toenemende druk dien, want die Egiptenare het bang geword vir die groeiende aanwas van die Israeliete. Toe hierdie harde arbeid nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het die koning probeer om met behulp van hierdie vroedvroue, dienaresse van die lewe, die manlike babatjies onopvallend te laat verdwyn. Maar hier begin die daadbelydenis van die twee vroue. Hulle stel hulle “nee” teenoor die gebod van die koning.

Teenoor die mag van Egipte met sy eeue oue tradisies, sy gode en sy praalgrafte vir konings en koninginne, staan die onderdrukte Israelitiese volk wat aanstons geroep sou wou word om die groot Naam van God bekend te maak aan Egipte, die Ooste en later aan die hele wêreld. Israel word nie met rus gelaat nie. Hulle kon nie rus in berusting nie. Deur die optredes van die Egiptenare het daar 'n onrus by die Israeliete ontstaan wat die volk moes aanspoor tot beweeglikheid, verandering, vernuwing – op weg na 'n nuwe toekoms volgens God se Raadsplan. Van hierdie opdrag is hierdie twee vroue die eerste getuies. Uit die aard van hulle werk was hulle betroubaar, verantwoordelik, eerbiedig, standvastig, waardig, onbaatsugtig, hulpvaardig en wys. Staande in hierdie diens het hulle geweier om verraad te pleeg teenoor die lewe, teenoor Israel en sy toekoms, en teenoor God. Hulle het geweier om aan die koning gehoorsaam te wees (Eks 1:19). Formeel sou 'n mens kon sê hulle het leuens aan die koning vertel. Maar in werklikheid is dit 'n diens aan die waarheid, 'n getuienis oor die lewenskrag van die Israelitiese vrouens en hulle vertroue op God. Hulle moed het gevolg uit hulle geloof, want dit is wat van hulle gevra is.

Hulle plaas hulle vertroue op God. Hulle slaan geen ag op die gevaar wat hulle persoonlik sou kon loop nie. Hulle weet dat God se werk eerste kom en hulle doen dit in geloof, en geloof is om in vertroue op God te handel. En dan handel God deur hulle. Die werklike betekenis van dit wat hulle gedoen het, het hulle sekerlik nooit besef nie. Hulle verrig 'n klein daad. Maar hulle klein daad is vervat in die groot daad van God. Hulle spaar die seuntjies se lewens. Dan lees ons: ”Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. En die volk het vermenigvuldig en baie magtig geword. En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk” (Eks 1:20-21). In Hebreërs 11 word hulle nie by name genoem nie, maar hulle bevind hulle in die geselskap van die groot gelowiges: Noag , Abraham, Moses en Gideon.

Jesaja sê: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie” (Jes 7:9). Die geloof en die moed van hierdie vroue is ook deur baie ander mense weerspieël. Meeste van die tyd het hierdie heldedade egter anoniem gebly. Hier in Eksodus word name genoem, maar wie sal kan sê hoeveel ander vroue en mans het onbekend gebly deur al die eeue daarna. Mense wat met geloofsmoed die goeie stryd gestry het ter wille van dit waarvoor God hulle geroep het. Mense wat  in volle afhanklikheid en vertroue in God gehandel het. Mense wat deur swaarkry en verdrukking staande gebly het omdat hulle aan die beloftes van God geglo het dat daar ook vir hulle en ons 'n nuwe Vaderland wag: “Maar ons leef in die verwagting van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” (2 Pet 3:13).

“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” - Romeine 8:28 NAV.

-dw-

Verwysing: Ongevraagde postille – dr EL Smelik
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css