Die Weg

 

In geloof vorentoe

En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader. En die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende”. - Genesis 41:51-52 OAV.

Daar kom tye in 'n mens se lewe wanneer 'n mens nie vorentoe of agtertoe kan gaan nie. 'n Mens is nog nie klaar met die verlede nie en ook nie gereed vir die toekoms nie. Hierdie onsekerheid is veel erger wanneer 'n mens innerlike weerstand teen verandering ondervind; wanneer 'n mens nie daartoe kan kom om die verlede af te sluit nie en ook nie die nuwe situasie kan of wil aanvaar nie.

Dit is seker hoe Josef moes gevoel het toe hy verkoop is. Daarmee is hy weggeruk uit sy jeugdige onbesorgdheid na 'n onbekende wêreld. Aan terugkeer kon hy nie dink nie. Hy sou moes leer om aan te pas.

Ons lees in Genesis 39 tot 50 van die lotgevalle van Josef in die huis van Potifar en later in die gevangenis; hoe die Here met hom was en sy lewe só vir hom bestuur het dat hy later deur die farao vereer is. Hy word tot onderkoning benoem en trou met die dogter van 'n vername priester. Hy word 'n man van aansien. Toe daar vir hom twee seuns gebore word, gee hy tog aan hulle name wat sy siel blootlê. En 'n mens lees daarin hoe hy die spanning van sy verlede moes oorwin. Sy oudste seun se naam  spreek van Josef se afskeid van sy verlede. 'Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”'(Gen 41:51 NAV). Sy tweede seun se naam spreek van die toekoms. Efraim, waarin die klank van die woord “vrug” in Hebreeus gehoor word, is die erkenning dat God hom in sy nuwe vaderland vrugbaar gemaak het. Met die hulp van God kon hy sy pynlike verlede vergeet en die toekoms getroos tegemoet gaan. En hierdie verandering is ook vir elke gelowige beskore.

Die herinneringe aan die verlede kan ons vasklem en verstik. Om aanhoudend terug te dink aan dit wat onherroeplik verby is, beroof ons van ons lewenslus en kan ons totaal verlam. Natuurlik kan die verlede ons betowerend boei deur die mooi dinge wat gebeur het, maar dit kan ons ook verpletter wanneer ons voortdurend gekonfronteer word met verwyte en skuldgevoelens. Ons kan selfs verbitterd voel oor 'n verlies.

Josef moes sekerlik baie van hierdie gevoelens geken het. 'n Mens kan dit vir jou maklik voorstel hoe hy sy vaderhuis gemis het, ook hoe hy, as hy na sy jeugjare teruggekyk het,vol verwyt aan sy broers gedink het en sy eie gedrag vol naïwiteit en eersug betreur het. Maar nou: “God het my al my moeite laat vergeet”. Dit is die erkenning dat wat verby is, verby is, en die aanvaarding van sy nuwe situasie. Hy behou egter die beste van die verlede: sy geloof. (Nogtans bly hy gevoelig vir alles wat dierbaar was, dit wys die onverwagte weersien met sy familie.) Maar die sieklike, belemmerende, onvrugbare besig-wees met die verlede is verby. Daardeur verstar Josef nie soos die vrou van Lot wat omgekyk het toe sy moes wegtrek nie (Gen 19:26). Daarom kon hy vorentoe kyk en die hand aan die ploeg slaan. Hy het hom in dieselfde geesteshouding as Paulus bevind wat kon sê: ek vergeet wat agter is (Fil 3:4). Geen weemoed of wraaksug verduister sy siel nie. Hy beskik oor 'n nuwe vryheid. En hierdie vryheid is vrugbaar. Daarom noem hy sy tweede seun Efraim: “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.” (Gen 41:52 NAV).

Om die nuwe toekoms eg en met oortuiging aan te pak, moet ons glo dat God sy planne het wat verder reik as wat ons kan sien. Josef, wat aanvanklik gedink het dat sy lewe in die sand van Egipte sou eindig, het tot nuwe insigte gekom deur na sy eie nageslag te kyk. Maar Josef het nog baie gehad wat hy in Egipte moes doen. Hy sou daar met al sy talente gebruik word vir die voortbestaan van die vreemde volk waarvan hy teen wil en dank lid geword het. Nog veel later sou hy begryp dat daar in die behoud van die Egiptiese volk 'n bedoeling was vir die voortbestaan van Israel: “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou” (Gen 50:20). En in geloof doen jy wat jou hand vind om te doen. God plaas op sy eie tyd alle dinge in plek waarvan ons nie nou al die dele van die legkaart kan sien nie.

Verwerk uit: Overjarige postille – dr EL Smelik

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css