Die Weg

 

Die môre kom ...

My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre” - Psalm 130: 6 (OAV).

Die psalmdigter maak in ons teksvers gebruik van die beeld van 'n nagwag wat verlangend uitsien na die môre, wanneer 'n ander by hom sal oorneem en hy sy wagpos mag verlaat. Solank hy op diens is, bly hy getrou, maar die eensaamheid van die nagtelike ure, die vermoeidheid en spanning laat hom uitsien na die einde van sy skof.

Die nagwag twyfel nie dat die môre sal kom nie. Hy weet dit. Die more móét kom soos telkemale tevore. So wag die siel van die verloste op die beloofde heil van die Here, ja, selfs met groter verlange. In die eensame ure van stryd en versoeking bly die gelowige getrou op sy pos, maar daar leef by hom 'n reikhalsende verlange dat die Here, sy Verlosser, hom spoedig te hulp sal kom. En hy kan volhard, omdat hy weet dat die Here onwankelbaar getrou bly. Die daeraad móét kom. Soos in die verlede, toe die Here telkemale getroos en gered het, so sal Hy gewis weer die verlange van die wagtende siel beantwoord.

So is dit ook met die wederkoms van die Heiland op die wolke.

Daar is niks wat ons so aangord vir die stryd nie as die wete dat die tweede koms van die Here ons tot verlossing sal wees. En hierdie koms is net so onwrikbaar seker as wat Sy eerste koms, Sy vleeswording, was.

Daar is vir die gelowige siel dus onuitspreeklike heil geleë in die gelowige afwagting van dié wonderlike dag. Om te wag, is altyd 'n waarskuwing om waaksaam te wees. Dit is ook 'n aansporing om te volhard en meer heilig te wil lewe.

Gebed: Ewig dank, hemelse Vader, dat my toekomsverlange na U nie 'n onsekere sprong in die duister hoef te wees nie, maar dat ek mag weet dat wat my siel begeer, soos die daeraad móét kom. Amen.

Uit: My Tye in U Hand - Ds H C de Wet
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css