Die Weg

 

Kleipotte wat maklik breek

"Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek! Die krag wat alles oortref kom dus van God, nie van ons nie." - 2 Korintiërs 4:7 .

Ons is die brose kleipotte. Die skat waarvan hier sprake is, is die wonderlike evangelie van Jesus Christus wat ons moet verkondig. Die krag wat die kleipot in mekaar hou dat dit nie breek nie, is die alles oortreffende krag van God.

Hoe voortreflik, talentvol en dinamies die mens ook al is, moet hy homself nooit probeer losmaak van God en van die krag van God nie! Dis God se krag wat die evangelie 'n krag laat word in die mens se lewe. En dis God se krag wat brose mense sterk en taai maak sodat hulle nie breek en uitmekaarval nie. Die mens wat sy volle potensiaal wil bereik sal dit alleen kan bereik as hy steeds in ag neem dat hy 'n swak kleipot is, wat onder druk maklik kan knak. Daarom oorlaai hy hom nie met verantwoordelikhede nie en daarom stel hy hom nie onnodig bloot aan allerlei versoekinge nie. Hy weet ook hoe klein en swak hy is en waag nie kanse wat hom kan breek en knak nie. Daarom leun hy ook swaar op die arm van die Here en kry sy krag vir elke dag by die alles oortreffende krag van God. Nie uit eie krag alleen nie, maar deur die krag van God kan die mens taai en sterk word sodat hy die aanslae van die lewe kan deurstaan!

Bly bewus daarvan dat jy 'n swakke kleipot is en put krag uit die groot Bron van krag! So sal jy die verste kom. Nie deur eie krag nie, maar deur die alles oortreffende krag van die Here bereik jy jou volle potensiaal. Deur Bybelstudie en gebed, deur innige gemeenskap met God moet jy diep teue drink uit die fontein van God se krag. So bly die kleipot sterk en behoue om die skat te beveilig.

Uit: Leef in weelde – Ampie Barnard. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css