Die Weg

 

Om jou skuldgevoelens te oorkom

“Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!” - Psalms 51:3.

Toe Dawid Psalm 51 gedig het, het hy verskriklik skuldig gevoel, en met reg. Hy het vreeslike sondes gepleeg en het nodig gehad om vergewe te word (2 Sam. 11). In hierdie psalm roep Dawid tot die Here uit: “Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel” (Ps. 51:10).

Om jammer te wees verander nie altyd die dinge waaroor jy jammer is nie. Dawid was jammer oor sy owerspel met Batseba en die moord op haar man. Maar sy jammerte het nie hul baba of Uría uit die dood teruggebring nie. Sy jammer-wees het ook nie Batseba se gebroke hart genees nie.

Julle moet weet dat julle sonde julle sal agterhaal" (Num. 32:23). Dit behoort ons te waarsku om in ons spoor te trap. God sal die moordenaar vergewe, maar die graf van die vermoorde bly staan, 'n stille getuie van die daad. God sal die dwelmverslaafde tiener vergewe, maar die kind se brein mag reeds beskadig, en sy of haar verstand aangetas wees. Die gevolge van sonde kan nie altyd ongedaan gemaak word nie.

Jy maai wat jy saai. God sal jou vergewe, maar die horlosie kan nie teruggedraai word nie. Die verreikende gevolge van sonde is verskriklik en God wil ons dit spaar, soos ook die skuldgevoelens en selfverwyte wat ná die tyd kom.

“Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel” - Psalm 51:10.

Skuldgevoelens kan goed én sleg wees. Ons kan selfs "valse" skuldgevoelens hê wanneer ons niks verkeerds gedoen het nie. Maar dit is goed om skuldig te voel wanneer ons oortree het. Dan moet ons om vergifnis vra en regmaak wat verkeerd was (as ons kan). En natuurlik kan ons terughardloop na God toe, soos Dawid gedoen het. Maar selfs as ons God vra om ons te vergewe, vóél ons soms nie vergewe nie. Wat moet ons dan doen?

Onthou: wanneer God jou vergewe het, moet jy gewillig wees om jouself te vergewe. As jy weier om God se vergifnis te aanvaar, sê jy dat Christus se offer nie genoeg was om met jóu sondes af te reken nie. Dissiplineer jouself om nie meer aan die dinge te dink wat jou laat skuldig voel nie. Satan wil jou in jou skuldgevoelens verstrengel hou sodat God jou nie kan gebruik nie. Onthou ook om daardie vergifnis aan ander uit te deel. Om dieselfde vertroosting aan iemand anders te bied wat jy ontvang het, help baie in die helingsproses.

As jy nog steeds nie vergewe voel nie, vra God om jou gees te vernuwe (Ps. 51:12) en jou weer die blydskap van jou verlossing te laat ervaar. (Ps. 51:14). Hou dan op met tob en dra die verlossingsboodskap aan ander oor (Ps. 51:15) en prys die Here (Ps. 51:17). Gaan voort met jou lewe!

Jill Briscoe (The One Year Book of Devotions for Women) (Effens verwerk).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css