Die Weg

 

Wie is ek? (1)

As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” - Matteus 6:22  (*)

Ek was eenmaal in die geselskap van 'n paar motoreienaars wat met groot lof oor die eienskappe van hulle motors gepraat het. Op 'n ander keer het ek vir 'n student gesê: “Jy is werklik 'n begaafde jong man”. Hy het rooi geword, sodat ek bygevoeg het: “Jy hoef nie  te bloos nie, want ek het geensins gesê dat jy 'n pragtige mens of 'n ongelooflike kêrel is nie. Ek het net gesê dat jy gawes ontvang het wat jy verantwoordelik moet gebruik. Dit is aan jou geskenk. Daarom hoef jy nie rooi te word nie!

Beide hierdie verhaaltjies is betekenisvol, want dit dui op iets belangriks: die mens het 'n merkwaardige neiging om vas te klou aan alles wat sy aansien of sosiale status kan verhoog, maak nie saak of dit sy motor, sy politieke mag, sy sakebelange of sy persoonlike bekwaamhede is nie. Hiermee wil hy sê: dít is ek”.

Ek kan ook nog gevalle opnoem waar die teenoorgestelde waar is, waar iemand sê: “dít is nie ek nie”. So byvoorbeeld was daar 'n persoon wat vir moord tereg gestaan het. Sy advokaat het moeite gedoen om te probeer aandui dat dit sy omgewing was wat veroorsaak het dat hy 'n misdadiger geword het: sy ellendige ouerhuis en sy agterlike ontwikkeling. Daarom kon hy nie alleen die skuld vir sy wandade kry nie.

Ons kan die boonste soos volg opsom: ek identifiseer myself graag met alles wat groots, mooi en positief in my lewe is. Dan sê ek: dít is ek. Maar ek distansieer myself aan die anderkant van alles wat my skuldig laat voel, wat skokkend en ongewens in my lewe is. En ek sê: dít is nie ek nie. Ons kan dit grimering of maskers noem waaragter ons ons werklike self vir die wêreld wegsteek.

Jesus se bergpredikasie skyn soos x-strale deur ons maskers en grimering. Die bergpredikasie sê nie: ja, liewe mens, jy is soos wat mense jou sien nie, maar wel: jy is wat jy onder daardie masker of grimering is. En wat gaan dáár aan? (Lees gerus wat Jesus sê in Matteus 5 tot 7).

Ons is so geneig om ons met al wat positief in die lewe is, te assosieer. Maar dit word anders wanneer ons Christus navolg. Dan leer ons om vir al die mooi en grootse dinge in ons lewens dankie te sê. En wanneer ons dank, sê ons juis: “dit is nie ek nie, ek het dit as 'n geskenk ontvang”.

Ek het dit tydens die bomaanvalle gedurende die Tweede Wêreldoorlog beleef. Voorheen as ek in my werkskamer gekom het waar die baie boeke staan, het ek gedink: dít is alles my geleerdheid en kennis, dit behoort aan my, dit is inderwaarheid my verlengde “Ek”. Maar toe die bomme val en die huise rondom my inmekaar stort, het ek gedink: dit alles behoort nie so vanselfsprekend aan my nie, dit kan alles van my weggeneem word, dit is alles aan my geskenk en toevertrou. Daarom het ek begin om dankie te sê vir elke dag waarop ek hierdie skatte nog kon benut.

So gaan dit met elkeen van ons. Dit wat ons het: ons familie, ons vriende, ons gesondheid,..., is nie so vanselfsprekend nie, dit is eerder onverdiende geskenke, waarvoor ons moet leer om God te dank. Dit gee aan ons 'n nuwe en verblydende lewensgevoel. Ons leer om meer bewustelik te lewe. Ons ervaar elke oomblik weer van nuuts af dat ons deur liefdevolle Hande gelei en deur 'n Vaderlike hart geseën word. Ons worstel en strompel nie meer voort nie, maar ons verstaan wat “lewe” werklik beteken. Ons lewe is 'n wonder: ons is begenadigde mense, ons het 'n Vaderland in hierdie en die toekomstige wêreld. Ons hoef onsself en ander mense niks meer wys te maak, of voor te gee nie. Ons mag wees wie ons is. Dit is die moeite werd om te lewe, want ons lewe het sin. Wie geleer het om dankie te sê, leef soos 'n bevryde.

(word vervolg)

Uit: Der Christ im Ernstfall – Helmut Thielicke (verkorte verwerking)

(*) Die Bybel in Praktyk sê van Matteus 6:22-23 die volgende: “Ons geestelike insig stel ons in staat om duidelik te sien wat God in hierdie wêreld met ons lewens wil doen. Ons insig kan egter baie maklik deur ons eie gedagtes en begeertes beïnvloed word. Selfsugtige begeertes en belange vertroebel ons geestelike insig. Die beste manier om weer helderheid ten opsigte van jou insig te kry, is om die geestelike oog op God gevestig te hou en Hom met oorgawe te dien”.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css