Die Weg

 

Wie is ek? (2)

“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom” - Psalm 139:1-2 NAV.

Hoe ek myself ken en hoe God my ken

Ek glo dat die vraag: “Wie is ek?”, of eerder: “Wat is ek?”, dit is, die vraag na die eie identiteit, ons almal die een of ander tyd besig hou. As ons jonk is, vra ons: Wat moet ek word? Hopelik gaan dit dan nie om: waar kan ek die meeste geld verdien? nie, maar eerder om: hoekom is ek daar? Waar kan ek vervulling vir my lewe kry? Waar kan ek myself wees?

Dit is verbasend hoe hierdie vraag filosowe en skrywers besig gehou het. Karl Marx (1818 - 1883) het gesê dat die mens is wat sy maatskaplike en ekonomiese omstandighede van hom maak. Die Franse filosoof, Jean-Paul Sartre (1905 - 1980), het gesê die mens word deur sy omgewing in 'n bepaalde posisie geplaas. Die omgewing waarin hy hom bevind verwag 'n bepaalde rol van hom en só moet hy dan wees en só moet hy optree. Hierdie druk wat sy omgewing op hom uitoefen bepaal of hy homself kan word en homself kan verwesenlik.

Jy het sekerlik ook al die indruk gekry dat die beeld wat ander van jou het, baie verskil van die beeld wat jy van jouself het. En dan is dit gewoonlik die eerste indrukke wat tel. (Dit weet almal wat al 'n onderhoud vir 'n pos by 'n werkgewer moes deurmaak).

Ek was 'n keer by 'n gesin waar die jongman 'n slegte lewe gelei en sy moeder se hart gebreek het. Hy was ook meermale in die tronk. Toe ek daar was, het hy voor die klavier gaan sit en 'n koraal uit die Mattheus-passie gespeel. Hy het dit soos 'n gebed gespeel, aangrypend en meelewend. Dit het my aangegryp. Toe sis sy suster onderlangs: “so 'n huigelaar!

Was hy werklik 'n huigelaar? Wie was hy dan eintlik? Was hy in die kern van sy siel dié man wat misdade gepleeg het, of was hy dié man wat hierdie koraal gespeel en om verlossing geroep, homself verag en die smet uit sy siel probeer uitspoel het?

Geen mens kan beoordeel wie hierdie jongman werklik is nie. Miskien het hy dit nie eers self geweet nie, en het net God geweet. En dalk het God gesê: daardie man het in hom 'n honger en dors na geregtigheid (Mat 5:6) en hy verag homself, daarom is hy vir My dierbaarder as baie selfversekerde en selfgeregverdigde mense, ten spyte van die donker kolle in sy lewe.

Wat beteken dit dat God my ken en dat ek syne is? Dit beteken dat ons nóg onsself, nóg ons medemens heeltemal verstaan. Ons ken selfs nie eens ons eie identiteit nie, wat nog te sê dié van ander. Ons hoef ons egter nie daaroor te bekommer nie. God dra 'n beeld van ons in Sy hart. Hy weet wie ons is.

As dit vir enige mens moontlik was om heeltemal deur ons te kon kyk, sou dit verskriklik wees. Dan sou ons voel om vér weg van daardie persoon te bly. Dit is 'n ontstellende gedagte dat iemand tot in die diepste voue van jou siel kan inkyk (Ps 139). Die gedagte dat God ons ken, kan ook benouend wees. Maar as dit dan waar is wat Jesus Christus ons van die Vader vertel het, is dit nie so vreesaanjaend nie, dan is dit goed en troosvol dat Hy deur ons kan kyk. Want ons weet dat Hy ons in liefde verstaan en deernisvol betrag.

Die Duitse skrywer Johann Wolfgang von Goethe, het gesê: 'n mens kan net dit verstaan wat jy liefhet. Ons word oneindig deur God bemin. Daarom word ons ook oneindig verstaan. Ons word verstaan deur Iemand wat medelye het met ons. Die predikant, Dietrich Bonhoeffer, het die volgende gesê voordat hy deur die Gestapo tereggestel is: “Wie ek ook is, U ken my, ek behoort aan U, o God!

Daar is Een wat my ondersteun, wie en wat ek ook al is.

Uit: Der Christ im Ernstfall – Helmut Thielicke (verkorte verwerking)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css