Die Weg

 

Volharding: Gebede

“Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed” - Handelinge 1:14

Novembermaand voel vir my altyd soos die laaste ronde van ‘n langafstand wedloop. Jou bene begin lam word, krampe trek, die asem jaag – en die verstand begin sê: “Jy gaan dit nie maak nie!” Dan onthou ek my onderwyser-afrigter wat aangemoedig het: “Hou aan tot jy dink jy kan niks verder nie, draf dan nog ‘n klein entjie. So word jy ‘n wenner!”

As Christene is ons ook met ‘n langafstand wedloop besig (vgl. Heb 12:1). Ons leef nie in ‘n vakuum nie. Alles wat rondom ons gebeur, het ‘n invloed op ons volharding, ons vasbyt om te doen wat noodsaaklik is. Die tyd van die jaar, die mense rondom jou se (on)gemotiveerdheid, die weer (meestal droog en warm in Namibië), die verstand wat moeg gedink is, die emosies wat uitgeput is – al hierdie dinge wil jou tot stilstand dwing met die gedagte: “Ek is nie meer lus nie, ek dink nie dis nodig nie, ek sal nie dit ook nog kan doen nie.”

Ons Skepper en hemelse Vader ken ons swakheid. Hy sien dwarsdeur ons. Daarom bemoedig Hy ons op die regte manier. In die Bybel kry ons opdragte en aanmoediging, voorbeelde en suksesverhale rakende hierdie wedloop. Die een woord wat dwarsdeur gebruik word is VOLHARD. Opvallend baie keer word volharding in GEBED aangemoedig. “Hulle (dissipels) het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ’n aantal vroue” (Hand 1:14). “Volhard in gebed!” (Rom 12:12). “Volhard in die gebed!” (Kol 4:2). “’n Weduwee ... vestig haar hoop volkome op God en volhard dag en nag met smeking en gebede” (1 Tim 5:5).

As daar dus een saak is waarop ons moet en kan fokus hierdie deel van die jaar is dit gebed. In gebed ontmoet ons vanuit die stukkende wêreld waarin ons leef die heilige God in sy heerlikheid. Ons het vrymoedigheid om te bid, omdat Jesus Christus ons Voorspraak by die Vader is. Gebed laat ons stilhou by God, luister, praat en nadink – hoe noodsaaklik is dit nie in ons gejaagde lewe nie! Waarom bid? Dit is die belangrikste manier van dankie sê aan God. Hy wil sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle gee, wat Hom sonder ophou van harte daarvoor smeek en dank. Wie in gebed volhard, sal geestelike en emosionele krag ontvang om met die wedloop van die lewe te kan volhou. Selfs al neem die liggaamskragte af, innerlik sal ons sterk wees. Doen dit met die oë gevestig op Jesus Christus, die wegspringplek en wenpaal van ons geloofslewe.

Mag jou gebede geseënd wees hierdie week!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 4/11/2013)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css