Die Weg

 

Het ons lewe enige sin? (2)

(vervolg op die vorige boodskap)

“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak” - Johannes 8:32.

Die verhaal van die verlore seun gee vir ons een antwoord op die vraag na die sin van die lewe. In sy soeke na homself moes hy ná al die dwaalweë waarop hy beland het, agterkom dat hy homself eers weer by sy vader kon vind. En nou moet ons dit op onsself toepas, want die sin van die lewe ontdek ek eers wanneer ek ten uitvoer bring (verwesenlik) waarvoor ek geskape is, naamlik om eerstens kind van God te wees. Ek kan myself net vind en verwesenlik wanneer ek my kindskap besef en wanneer ek in harmonie met my oorsprong, naamlik God, leef.

Die vryheid om myself te wees ontvang ek net wanneer ek vry word vir God. En terwyl hierdie vrywees vir God, hierdie vader-kind verhouding in en deur Jesus Christus aan my geskenk is, geld die reël:  “As die Seun (Christus) julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh 8:36). Dan geld ook die volgende: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh 8:32). En die waarheid waarom dit hier gaan is die feit van ons lewe: ons kan net werklik lewe in ons verbondenheid met die Vader. Net dié persoon wat God gevind het, kan homself vind.

Maar beteken dit dan nie dat ek my individualiteit kan verloor nie? Is ek nie ook maar wie ek is nie? God het ons juis so geskape dat elkeen van ons uniek is, maar dit is juis in ons verbondenheid met Hom dat wat uniek is aan elkeen van ons tot sy volle vervulling en verwesenliking kan kom. Want wie in die vryheid van die Vaderhuis leef en asemhaal en dus vrede het, leef in die liefde van God en hoef met geen angs vir homself (die donker kante van sy eie wese) of angs vir die wêreld te leef nie. Daar is nou Iemand by wie jy geborge is en wat jou trou bewaak; daar is Iemand na wie toe jy mag kom net soos jy is.

Die lewe kan net sin hê as ons hierdie lewe by die Vader gevind het. Wanneer ons die lewe met die Vader verloor het, mis ons dit waarvoor ons geskape is. Ons kan dan wel iets groots word in hierdie wêreld, dit kan ons dalk nie ontbreek aan aardse goed nie, en mense mag die hoed hoog lig vir ons, maar die sin van die lewe het ons gemis.

Toe die vader sy terugkerende seun in sy arms toegevou het, het die seun nie net tuisgekom nie, hy het homself gevind.

Uit: Der Christ im Ernstfall – Helmut Thielicke (verkorte verwerking)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css