Die Weg

 

Geregtigheid alleen by God

“Ek wil die Here prys omdat Hy reg laat geskied. Die Naam van die Here, die Allerhoogste, wil ek besing” - Psalm 7:18.

“Mag en geweld is al wat tel”;
“Die sterkstes oorwin”.

Dit is die “wyshede” en uitsprake van die wêreld, en is dit nie ook hoe ons dit baie maal ervaar nie?  Maar dit was nie die oortuigings van Dawid toe hy hierdie Psalm gedig het nie. En dít, terwyl hy sopas 'n bittere les geleer het van gemeenheid, agterbaksheid, gekonkel en listigheid. Dit is die gebed van 'n man wat met vaste vertroue na God opsien en weet: daar is geregtigheid, en alleen by God!  Hy stel sy vertroue op God. Hy gee sy vertwyfeling en wanhoop aan God oor en ontvang sy krag uit hierdie wete: God sien alles raak. En daarom kon hy alreeds, by voorbaat, God vir die uitkoms dank. Verder betuig en beroep hy hom op sy onskuld: “As ek iets verkeerds gedoen het, Here my God, as daar onreg aan my hande kleef, as ek 'n vriend van my kwaad aangedoen het, as ek 'n teëstander van my sommer goedsmoeds kaalgestroop het, mag die vyand my dan agtervolg en inhaal, my in die grond in trap, my tot in die stof in verneder” (Ps 7:4-6).

En terwyl die magte van onreg en geweld ook vir ons soms die lewe moeilik maak, weet ons: 'Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. ... Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie.' (Rom 14:10-13) Ons lewe immers in die vreugde van ons verwagting op die wederkoms van Jesus. Hy sal kom. Hy sal al die trane kom afdroog. Hy sal aan ons die ewige lewe skenk! Jesus is daar vir ons, vir altyd. En daarom kan ons nou hier, vandag, Hom reeds dank vir alles wat Hy belowe het en met Sy bloed verseël het. Hierdie vertroue maak ons sterk vir die lewe, sodat ons kan vertrou, kan handel en kan volhou met ons lewe tot eer van die Here.

Monika Deitenbeck-Goseberg (Neukirchener Kalender 2009).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css