Die Weg

 

Om te kan vergeet

“Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” - Filippense 3:14 OAV.

In die vorige boodskap het ek die volgende gesê oor “vergeet”:

“Daarmee bedoel hy (Paulus) nie net al die verkeerde afdraai paaie wat jy geneem het en die verkeerde doelwitte wat jy gekies het nie, maar alles wat in die verlede gebeur het. Wie Jesus as sy persoonlike lewensdoel het, sal al sy mislukkings, teleurstellings, foute en flaters van die verlede agterlaat en vorentoe kyk. Hebreërs 12:1-2 stel dit so: “laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” .

Vergeet het natuurlik ook 'n ander sy wat ons nie altyd so duidelik raaksien nie, naamlik, “vergewe”. Hierdie woorde vergewe en vergeet word in een sin gebruik as God aan sy volk sê: “want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Jer 31:34 OAV). Kan ons so maklik ander mense vergewe en nie meer dink wat hulle aan ons gedoen het nie? Jesus sê ons moet só bid: “en vergewe ons ons sondes want self vergewe ons elkeen wat teenoor ons skuldig staan” (Luk 11:4 Direkte vertaling).  Aan die ander kant, wanneer ons gesondig het en vergiffenis gevra het, dan moet ons self ook van daardie sondes vergeet en nie toelaat dat dit ons aanhou ry nie.

Dr Norman Vincent Peale het die volgende gesê oor hoe om te kan vergeet:

Dit is 'n kuns om te kan vergeet. Maar as hierdie kuns beoefen word, is dit 'n wonderlike krag wat ons gemoed laat ontspan en die druk op ons gees verlig. Sommige mense kla dat hulle dit moeilik vind om iéts te onthou. Baie meer mense vind dit moeilik om te kan vergeet.

Baie mense het die gewoonte om die gemoed met ongelukkige herinnerings van teleurstellings en mislukkings te oorlaai. Hulle lê snags op hulle bed en dink aan wat iemand anders van hulle gesê het of aan hulle gedoen het. Hulle word gekwel deur die herinnering aan iets wat ongedaan gelaat of swak gedoen is. As gevolg van hierdie nare gedagtes grawe hulle gees, nou so ongelukkig en bang, terug in die liefs vergete verlede en hou hom op walglike wyse besig met ou sondes, ou droefhede en ou ongelukkighede. Dit lei tot senuweespanning en dalk uiteindelik tot algehele ineenstortings. Daarom is die ontladende vermoë om te vergeet van die allergrootste belang.

'n Uitstekende hulpmiddel tot geestesgesondheid is die Bybelse verklaring : " ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Fil. 3 : 14).  Sê dit maar gerus verskeie kere vir jouself op wanneer jou gees lus voel om homself met ongelukkige dinge besig te hou. Dit sal jou help om te vergeet. En  soos jy die kuns om te vergeet baasraak, sal jy ongestoorde slaap en kragvernuwende rus geniet.

Om te vergeet is 'n positiewe proses waar jy aangename herinneringe in die plek van al die ongelukkige herinneringe kan stel. Terwyl jy jou gedagtes dwing om hulle op die gelukkige, goeie dinge toe te spits, sal die negatiewe ongelukkige, slegte dinge langsamerhand uit jou gedagtes verdwyn omdat hulle met positiewe, gelukkige gedagtes vervang word.

Die volgende eenvoudige handeling kan nogal nuttig wees om jou hiermee te help. Gaan staan by jou kamerdeur en as jy die deur toemaak sê: "Daar is 'n klomp dinge wat ek nou besig is om te vergeet. Ek vra julle om my gedagtes te verlaat, want julle is slegte geselskap. Ek sit julle nou by die deur uit en beveel julle om weg te gaan. Ek maak nou die deur toe. Ek draai nou die sleutel. Die slot klik, en julle is weg".

As jy sulke ongasvryheid elke nag aan ongelukkige en negatiewe gedagtes bewys, sal dit uiteindelik sulke gedagtes ontmoedig, en later sal jy blywende vrede geniet. Die nagtelike gewoonte om ongelukkige gedagtes met gelukkiges te vervang, sal jou vermoë ontwikkel om net kalme en ontspannende gedagtes toe te laat. Op hierdie wyse word jy al hoe meer bedrewe in die kuns om jou gedagtes te beheer, sodat jy jou roeping voluit kan vervul.

-dw-

Aanhaling uit: “Inspiring Messages for Daily Living” - dr Norman Vincent Peale.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css