Die Weg

 

Die regte begin, verlossing en lyding

“Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is” - 1 Petrus 2:21-24 OAV.

Ons begin elke jaar met nuwe voornemens... “Hierdie jaar gaan ek 'n nuwe blaadjie omslaan en oor begin”. Dit klink so wonderlik, maar binne enkele dae is ons maar weer in die ou groef want ons sleep die ou dinge van die vorige jare steeds met ons saam: ons gebroke verhouding met God, die berg van skuld op ons gewetens of die verkeerde afdraaipaaie wat ons gekies het. Daarom moet ons dalk weer teruggaan na die enigste en regte begin.

Soos ons eergister gesien het, moet ons teruggaan na die punt waar ons deur Christus gegryp is. Dit word óns nuwe begin, waar ons met Christus in sy dood en lyding verbonde is en so self die sonde afsterwe. Bo alles, ons kry 'n nuwe koers, 'n duidelike bestemming en 'n vaste doel waarheen ons kan lewe.

As ons dan hoor van die nuwe lewe en die verlossing deur Christus, verwag ons om verder te hoor dat alles maklik en suksesvol sal gaan en dat die mense saam met ons sal bly wees. Saam met die wonderlike vreugde oor die nuwe lewe, spreek die Skrif egter oor die lyding wat daarmee gepaard gaan. Dit kan mense verwar: ons is verlos - en waarom nou die vervolging, die laster, die haat en die verdrukking? “Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie” (1 Pet 3:14 OAV).

Die Here wil hierdie siening van die mens, dat alles net hemel op aarde sal wees, regstel. Lyding is nie iets wat die gelowige en die kerk gespaar sal word nie. Dit is nie "iets vreemds" wat oor ons kom nie, maar die normale ondervinding wat in 'n sekere sin moét kom. Ons kan sê die haat en al die vorms van vervolging van die gelowiges, is die egtheidstoets vir die geloof.

Lyding beteken nie dat die Here ons in die steek laat nie, maar dat ons juis deel kry aan sy saak, sy koninkryk en sy stryd om die duiwel en al sy werke te verbreek. Hierdie lyding en haat kom omdat dit teen Hóm gerig is. Die mense het Hom nie erken nie, maar Hom gekruisig en sal ook vir ons die kruise reglê.

Onder die felste lyding moet ons nie vrees óf ontsteld wees nie, want Christus het die eindoorwinning en Hy sal ons steeds vashou. Niemand kan ons die saligheid ontroof nie en daarom is ons selfs onder die lyding salig en gelukkig. Verder moet ons daarop let dat die lyding die toets is waar ons geloof, soos die silwer in die vuur, gelouter en gesuiwer word.

(Met erkenning aan dr AC Barnard in Lig en Lewe: NG Kerk Uitgewers, 1972)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css