Die Weg

 

Jy kan seker wees

Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons 'n beskutting” - Psalm 46:12.

Die psalmdigter vertel in hierdie psalm waarom die kinders van God vir niks bang hoef te wees nie. Hulle het in hulle nood gedink aan God se dade in die verlede en geweet dat hulle op Hom kan vertrou. As ons bang is vir enigiets - rampe of oorlog, geweld of pyn, siekte of dood - kan ons nog steeds dink aan wat God in die verlede vir ons gedoen het. Dit bevestig sy liefdevolle betrokkenheid by ons: Hy het sy Seun gegee om in ons plek te sterf en op te staan. Daarom hoef ons vir niks meer bang te wees nie.

In 'n steeds veranderende wêreld is daar altyd by God stabiliteit en sekerheid. Miskien het jou planne tot niks gekom nie; jy het diepe teleurstellings deurgemaak; was daar droefheid en verlies; jy het dalk van God af weggedryf. Dan is dit 'n vertroostende gedagte om te weet: "Die Here, die Almagtige, is by ons."

Die Here wil nie hê dat ons die realiteit van probleme, pyn en lyding moet miskyk nie. Hy laat dit toe sodat ons ons geloof en vertroue al meer op Hom sal vestig, kragtig aan Hom sal vashou en meer van sy onuitspreeklike liefde sal leer. Wat Hy wil hê, is vir ons om te weet dat Hy ons nie vergeet het nie en dat ons nie alleen is nie. Laat ons altyd vaste troos vind in die woorde: "Die Almagtige is by ons!" Hy is by ons om ons elke dag in ons swakheid by te staan: in droefheid, pyn of vreugde. Hy is die hele pad ons hemelse Metgesel. Loof die Here, want Hy is goed!

Ek weet verseker: die Here, die Almagtige, is by my! Daarom kan ek sonder vrees móre tegemoetgaan; my God is reeds daar! Amen.

Ds Solly Ozrovech – Leef uit die Krag van God (Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy  - CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css