Die Weg

 

God lei met volmaakte tydsberekening

“Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou” - Psalm 32:8.

God lei gewis dié wat hulle volle vertroue in Hom plaas. Wanneer ons jubel dat God ons Leidsman is, beoefen ons nie teologiese spekulasie of intellektuele gimnastiek nie. Dit is 'n werklike en konkrete lewenservaring van duisende wat 'n lewe lei wat aan God toegewy is. Die wonderlike is dat dit ook jóu ervaring kan wees.

Daar is twee vereistes vir God se leiding in jou lewe. Die eerste is om in totale oorgawe aan Hom te leef en die tweede is om in harmonie met Hom te leef. 'n Mens volg net iemand se leiding as jy jou vertroue onwrikbaar in daardie persoon stel. As God jou Leidsman is, volg jy Hom stap vir stap sonder om die eindpunt van die weg te sien, in die geloof dat die pad waarop jy jou bevind God se pad en God se wil is. En dan bekommer jy jou ook nie oor die tye nie, want alles gebeur op God se tyd. Hy sê immers: “Wanneer die tyd daarvoor kom, doen Ek dit. Ek is die Here” (Jes 60:22).

Dit is alleen wanneer jy in harmonie met Hom leef dat Sy volmaakte tydsberekening in jou lewe sigbaar word. Jy kan God se wil nie buig om by jou tydrooster aan te pas nie. Jy kyk binne die tyd na gebeurtenisse, maar God sien alles vanuit 'n ewigheidsperspektief.

Dit is soms moeilik om God se tydsberekening te aanvaar. Ons storm Sy heilige teenwoordigheid binne met 'n saak wat vir ons lyk of dit van die uiterste belang is, en eis van Hom om dadelik op te tree om 'n ramp te voorkom. Wanneer God nie dadelik reageer nie, probeer ons om uit eie krag en wysheid op te tree, gewoonlik met katastrofiese gevolge. Die eenvoudige waarheid is dat ons weier om ons tydsberekening in harmonie met God s'n te bring.

Om met God in pas te kom moet jy Hom eers ken deur Jesus Christus. Wanneer jy Sy leiding aanvaar en Sy wil die hoofsaak in jou lewe word, sal jy Sy volmaakte tydsberekening begin raaksien. Paniek en gejaagdheid sal verdwyn omdat jy God volkome vertrou en gehoorsaam. Dan leer jy om binne die wil van God te lewe, in liefde geborge en met vrede in jou hart.

Verwerk uit: Leef uit die Krag van God – ds Solly Ozrovech (Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy  - CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css