Die Weg

 

Om geduldig te wees

“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het” - Kolossense 3:13.

Een van die groot neweprodukte van ons moderne samelewing is dat ons gewoond geword het daaraan dat ons behoeftes baie vinnig bevredig word. Kitskos, mikrogolfoonde, rekenaars, faksmasjiene, spoedpos, noem maar op: alles is ontwerp om wagtyd tot die absolute minimum te beperk. Die noodwendige gevolg hiervan is dat die meeste van ons nie meer gewoond daaraan is om te wag nie, en daarom ook nie baie goed is met wag nie. Ek beleef elke keer weer iets daarvan as ek in die supermark in 'n lang tou by die kassier moet staan en die ongeduld kriewel hier binne-in my.

Gelukkig is God nie soos ons nie. Verbeel julle 'n situasie waarin God ongeduldig met ons en met die wêreld is. Hoeveel kanse sou Hy ons gegee het om maar elke keer wéér met dieselfde verskoning voor Hom te staan en pleit om vergifnis? Meer nog: Hoeveel eeue gelede sou Hy nie al die wêreld vernietig het om van die boosheid en ellende ontslae te raak nie?

Maar God is nie soos ons nie. Hy is geduldig met ons (vgl. 2 Pet. 3:9, 15). En ons, wat sy kinders is, het die roeping om soos Hy te wees in ons optrede teenoor mekaar. In Kolossense 3:13 sê Paulus: “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe”. En in Efesiërs 4:2 staan: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde”.

As dit waar moet wees in ons verhouding met ander mense, hoeveel te meer nie in ons verhouding met ons huweliksmaat nie? Die vrug van die Gees in ons lewe sal vrank bly totdat ons geleer het wat dit beteken om ruimte vir mekaar te gee en geduldig te wees.

Jaco Thom: Saam voor God (Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy  - CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css