Die Weg

 

Saam met God is die styl lewenspad nie 'n doodloopstraat nie

Iemand roep: "Maak vir. die Here 'n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld 'n grootpad v1r ons God! Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet 'n gelykte word en elke koppie 'n vlakte. Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê." Jesaja 40:3-5.

God los nooit sy volk nie, kom wat wil. Al word die pad hoe moeilik, God stap saam. In die donkerste oomblikke flikker die lig van hoop steeds, want God is dáár. God se pad is nooit 'n doodloopstraat nie, want by God is daar altyd 'n nuwe begin. Dit sou Jesaja sê as jy met hom kon praat.

Jesaja se profesieë strek oor drie belangrike tydperke in die lewe van God se volk, naamlik voor die ballingskap, tydens die ballingskap en ná die ballingskap.

Voor die ballingskap was die volk Juda vol bravade en het nie gedink dit is regtig belangrik om die Here te dien nie (1-39). Hulle het egter 'n groot fout gemaak.'n Mens speel nie met God nie, want God is net te magtig. Rondom Israel was die groot wêreldmagte van die Assiriërs en Babiloniërs aan die opstaan en hulle skaduwees het dreigend oor Juda geval. Tog kon hulle nie alleen opstaan nie, want hulle was maar net die instrumente in die hand van die Skepper-God van Israel. God, en nie die wêreldmagte nie, skryf die geskiedenis; om die waarheid te sê, God skryf die geskiedenis met en deur die wêreldmagte. En so gebruik God dan ook daardie wêreldmagte om Juda te straf vir hulle onwilligheid om Hom te dien.

En so het die volk van God in ballingskap beland. Maar Jesaja het ook 'n boodskap van hoop vir hierdie ballinge (40-55). Dit is nie meer lank nie of die volk sal kan teruggaan huis toe. Die Persiese koning Kores gaan hulle terugstuur. Maar moenie 'n fout maak nie; hy is maar net 'n instrument in die hand van die Here. Dit laat die Babiloniese afgode maar vaal en belaglik lyk. Hoe kan hulle enigsins vergelyk word met die magtige en lewende God wat die geskiedenis as speelbal in sy hand hou!

Terug in hulle land het die volk van God weer 'n toekoms ... Uit die bouvalle van die ou stad wat deur die Babiloniërs platgevee is, gaan daar 'n nuwe Jerusalem verrys. Daar gaan God saam met sy volk woon en Hy self sal hulle beskerm. Die lig van hoop skyn weer helder, die toekoms wink, die lewe roep. Ja, die mense van God is weer terug in Juda (56-66). Tog gaan alles nie so goed as wat hulle verwag het nie. Met hulle terugkeer het daar in Jerusalem 'n klomp probleme vir hulle gewag. Die gevaar was natuurlik dat die teleurstellings die volk allerhande verkeerde paaie sou laat loop, en dit moes hulle keer. Hulle moes die Here bly vertrou.

So op die pad saam met God het hulle ook 'n ander ding besef:

God se verlossing is nie net vir 'n paar mense nie, maar vir almal. As iemand bereid is om voor God te kniel is hy of sy by God welkom, maak nie saak wie daardie persoon is of waar hy vandaan kom nie. God regeer oor almal omdat Hy die enigste God is. Daarop moet hulle hulle hoop stel en hulle toekoms bou.

Uit: Die Bybel in 40 dae deur Jan van der Watt.  - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css