Die Weg

 

Vir die Here is jy baie werd

'Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was 'n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here 'n oorwinning aan Aram besorg. Die man was 'n dapper soldaat, maar hy het melaats geword. Op een van hulle strooptogte het die Arameërs 'n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.” ' - 2 Konings 5:1-3.

'n Mens kan partymaal so nutteloos voel. Jy voel asof jy vir niemand en niks meer iets werd is nie. Die vraag is egter of die Here ook so dink. Kyk maar in hierdie Skrifgedeelte hoe belangrik hierdie dogtertjie, wat volgens menslike oordeel vir niemand meer in tel was nie, vir die Here was. Sy moes 'n groot werk vir Hom doen.

In vers twee word sy beskryf as maar net 'n dogtertjie, iemand sonder naam. Nadat sy in 'n verwoestende strooptog wreed van haar familie en haar land weggeskeur is, is sy verkoop as bediende. Geleerdes van vandag sou sê dat die ontsettende skokke waardeur sy moes gaan, haar lewe verwoes het. So oordeel mense.

Die onbelangrikheid van die dogtertjie word in sterk kontras geteken met die belangrikheid van Naäman. Sy naam was op elkeen se lippe. Hy was 'n volksheld. Net soos Naomi beteken sy naam 'die lieflike' of 'beminde'. Hy is hoof van sy land se leër en selfs die koning van die Arameërs ag hom belangrik.

God kyk anders en dieper. God het geweet van sy siekte en Hy het die siekte oor Naäman beskik omdat Hy Naäman nodig gehad het. God wou nie deur die belangrikheid van hierdie man verheerlik word nie, maar deur sy siekte. En daarvoor gebruik Hy 'n naamlose klein dogtertjie, iemand sonder gesag, regte of aansien.

In diens van die Here is niemand en niks te gering nie. Sélfs al dink jy of ander mense jy is niks werd nie. 'n Klein dogtertjie, sonder aansien, is goed genoeg vir die werk van die Here en om met 'n veggeneraal te praat! Vir die Here is jy nuttig. Jy is mos sy eiendom. Jesus Christus het minder as 'n slaaf geword en sy lewe gegee om jou tot sy eiendom te maak. Jy is duur gekoop.

Ds. G.J. Ligthelm (Almanak 1999) (effens aangepas)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css