Die Weg

 

Blom waar jy geplant is

En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hy gedoen” - Genesis 39:22.

Daar is so baie mense wat ongelukkig is met hulle omstandighede. Die werkplek is sleg, die huwelik is moeilik, die land gaan agteruit, alles loop net altyd skeef.

Ons leer uit die geskiedenis van Josef dat ons die beste moet maak van elke situasie. Ons leer dat geluk van binne af kom en nie afhanklik is van uiterlike omstandighede nie. Josef is onskuldig in die tronk gegooi en jare lank daar aangehou sonder 'n verhoor. Hy het baie moeilike jare beleef. Hy het alle rede gehad om in opstand te kom en aan te dring op beter behandeling. Hy het alle rede gehad om moed op te gee en te kla oor hoe sleg die lewe hom behandel het. Maar hy het nie.

Deur alles heen het Josef vir God eerste gestel en Hom gedien, eers as slaaf van Potifar en daarna in die tronk. Ons kan sê Josef het geblom waar hy geplant is. Was hy bewus van die plan wat God met hom gehad het? Hy het nie heeltyd gekla oor hoe sleg hy behandel is nie, maar hy het sy bes gedoen binne die omstandighede waarin die Here hom geplaas het.

God het ook 'n plan met elkeen van ons se lewens. Hy plaas ons nie verniet in die situasie waarin ons ons bevind nie. Hy het 'n doel daarmee. Kom ons doen net wat God wil en lewe positief. Kom ons blom daar waar die Here ons geplant het.

Ds J.D. van't Zand

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css