Die Weg

 

God neem alle vrees vir ons weg

U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood, sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie” - Psalm 10:18.

Vrees en angs is ‘n deel van ons samelewing. Ons leef agter slot en grendel, hoë mure en sekerheidsheinings, reaksiemagte om toe te slaan as die inbreker (soms selfs moordenaar) opdaag. Mense wil nie graag ná donker op straat wees, of saans tuiskom nie. En hierdie vrees is geregverdig, want daar is soveel voorbeelde van misdaad en geweldpleging. Die media basuin dit uit as sensasie en jaag die vrees nog verder aan. Bejaardes, kinders, jong mans en dames is almal teikens wat soms op die wreedaardigste wyses aangeval, beroof en selfs vermoor word.

Heelwat gelowiges bid vandag nog dieselfde woorde: “Waarom trek U U terug in tye van nood?” (Ps 10:1). Nie as ‘n verwyt nie, maar as ‘n noodroep tot God. Is so ‘n gebed sinvol? Of is dit ‘n geskreeu in die wind, sonder die hoop dat daar ‘n God is wat hoor?

Slegte omstandighede kan ‘n mens maklik wanhopig maak, asof God nie bestaan nie. Of dat Hy nie omgee nie. As jy só voel, of iemand ken wat vandag soos ‘n weeskind voel of in ernstige nood verkeer, dan is Psalm 10 vir jou tot bemoediging. Dit beskryf die werklikheid van gewetenlose persone, wat net vir hulself tyd het, hulle eie wetgewer is, vir hulleself enige onreg goedpraat, asof hulle aan niemand verantwoording hoef te doen nie. So lyk hulle gesindheid: “Die goddeloses is vol van hulleself, hulle vervolg ’n hulpelose man.”  (vers 2). “Die goddelose verlustig hom nou al in wat hy hoop om in die hande te kry.” (vers 3). “Hy verag die Here. Neus in die lug sê hy: “God vra tog geen rekenskap nie!”  (vers 4). “Hy lê onskuldiges voor agter die heinings en vermoor hulle in die geheim.” (vers 8).

In sy nood, wat veroorsaak word deur die skynbaar “magtige” misdadiger en verdrukker van onskuldiges, weduwees, wese en armes, roep die psalmdigter die ALMAGTIGE aan. Hoe belangrik bly dit nie! Ken jou Here en God as die Almagtige! Om tot Hom te bid is nooit ‘n waagstuk of skoot in die donker nie! Die belydenis van hierdie psalm, onder leiding van die Heilige Gees, bemoedig ons weer en gee vrymoedigheid om te bid om krag en uitkoms. “Die Here bly altyd koning, die vyande is uit sy land verdryf. U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed. U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood, sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.” (Ps 10:16–18). Ons hoef regtig nie in vrees te leef nie. Versigtig ja! Daar is gevare, misdadigers, gewetenloses. Maar vrees - nee. By die Here is ons veilig. Nou en vir altyd. Hy sal op sy tyd ook die onreg op aarde tot ‘n einde bring. Nou gee Hy krag om onder teëspoed blymoedig te wees, te getuig van sy nabyheid en staande te bly.

Bid sonder ophou, want Hy is die lewende Here. Hy is in Christus ons Vader, wat in liefde vir ons sorg – beter as vir die mossies en die lelies van die veld.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 7/4/2014)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css