Die Weg

 

Daar is ligte wat help en ligte wat verblind

'Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God 'n eerlike gewete het. As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal' – 2 Korintiërs 4:2-6.

In die vroeë jare, toe elektrisiteit op die platteland nog 'n rariteit was en padkaarte maar baie skraps was, moes 'n mens op die aanwysings van mense vertrou om by 'n afgeleë bestemming uit te kom. Boonop was dit moeilik om in 'n donker nag die regte, soms baie dowwe, uitdraaipaadjie te kry. Dan is vooraf gereël dat daar 'n lantern by die uitdraaiplek geplaas sou word. Jy kon dan die liggie sien brand en weet dat jy op die regte koers is.

Die donker, ook hóé swart en wyd, kan nie so 'n liggie insluk nie. Maar dan gebeur die onverwagte. 'n Voertuig kom op die smal pad met sy groot en skerp ligte van voor af op jou afgepeil en verblind jou heeltemal, sodat jy nie jou liggie raaksien nie en verby ry.

Dit is waarvan Paulus hier praat. Daar is iemand, die god van hierdie wêreld, die duiwel, wat mense gebruik om met 'n skerp lig rond te loop. Hy lig ewigdurend in ons lewe in met sy skerp lig om ons te verblind sodat ons die spoor van God se pad vir ons, moet verloor. Daarom het God 'n veel sterker lig in ons harte aangesteek. Meer nog, dit wys vir ons die pad aan en verlig dit sodat ons nie sal verdwaal nie. 

Kyk na die rigting waarin hierdie lig jou lei. Dis op 'n ander pad as die van die duiwel en dit sal altyd 'n lamp vir jou voet wees.

GEBED: Help my, Here, om te lewe en te wandel in die lig van u Woord.

(Met erkenning aan, en aanhalings van Prof AH van Zyl: Uit die Beek 1999)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css