Die Weg

 

God sal al die trane afdroog

Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?” “Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.” Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en 'n hittegloed ook nie, want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”  - Openbaring 7:13 – 17.

Om te huil en trane te stort is deel van die lewe. Van kleins af tot in die gryse ouderdom stort elkeen van ons baie trane. So deurweek Dawid sy "bed met trane" (Ps 6) en is dit sy "spys dag en nag" (Ps 42). Jesaja se oog "is 'n fontein van trane" (Jes 9) en Paulus "dien die Here met baie trane" (Hand 20). Ons Here Jesus Christus het immers ook gehuil - oor die sondes van Jerusalem, maar ook oor die dood van sy vriend Lasarus. En aan die einde van sy lewe op aarde het al ons sondes vir Hom smarte en trane gebring.

Maar as die einde van die dae kom - só berig Johannes in Openbaring 7 - sal trane verby wees, want "God sal al die trane van hulle oë afdroog". Johannes sien hier 'n menigte mense wat ... ja, nie huil nie ... maar jubel en juig. En die engel berig dat die verlostes in die hemel is. Johannes moet dit neerskryf vir jou en my om te weet en te glo: In die hemel sal daar géén trane meer wees nie, omdat "God al die trane van ons oë sal afdroog".

Natuurlik! Trane en droefheid is beeld van lyding en smart ... van sonde en pyn. Trane is bestem vir hierdie lewe. As ons die dood deurgaan is alle trane weg. Ons kom nie in die hemelse saligheid aan met rooigehuilde oë nie, omdat God self die trane van ons oë sal afdroog.

Daarom sien die kind van God met verlange uit na daardie dag. Maar as ons vandag seer het en trane ons oë verdof, weet ons: Dit sal eendag vir ewig verby wees.

Intussen bied die Bybel ons tog soveel troos ... te midde van ons trane.

Ds N.W. Ligthelm

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css