Die Weg

 

Onopvallende bedienaars van die Woord

“Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” – Matteus 5:3 OAV.

Daar is dinge in die Nuwe Testament opgeskryf wat ons lees sonder om twee keer daaroor na te dink. Ook net omdat dit nie by ons standaarde en lewenswyse inskakel nie.  So is dit met die woorde: “Salig is die wat arm van gees is”. Dit beteken letterlik: “Geseënd is die afhanklikes”. En afhanklike mense sien 'n mens oral.

Die prediking van ons dag is geneig om die wil van 'n persoon of die voortreflikheid van sy karakter te beklemtoon – die sigbare eienskappe wat maklik opgemerk kan word. Ons hoor dikwels iemand sê: “Maak 'n keuse vir Jesus Christus”. Dit plaas die klem op iets waar ons Here nooit op vertrou het nie. Hy het nooit gevra om vir Hom te kies nie, maar dat ons ons aan Hom sou oorgee – sien jy die verskil?

Die koninkryk van Jesus Christus bring die skoonheid na vore van dít wat ons as alledaags beskou. Ek is geseënd in my armoede. As ek geen sterk wil van my eie het nie en nie in die lewe uitblink nie, dan sê Jesus vir my: “Geseënd is jy, want deur jou afhanklikheid van My, kan jy in My koninkryk inkom”. Ek kan nie Sy koninkryk binnegaan op grond van my eie deugde of voortreflikheid nie – ek kan slegs met oorgawe en afhanklikheid ingaan.

Jy hoef nie welsprekend te wees om van God te getuig nie, inteendeel, baie mense getuig met hul optrede van God, sonder dat hulle self bewus is daarvan. Daar is natuurlik mense wat God  verkondig sonder dat dit uit hul hart kom (vgl Hand 17:16-18). As ek self begin wonder of ek van enige nut is vir God, verloor ek gou die skoonheid en varsheid van die Here se aanraking: 'Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” '(Joh 7:38). En as ek nou begin om die uitvloei daarvan te ondersoek en te bevraagteken, verloor ek die aanraking van die Here.

Wie is die mense wat die grootste invloed op ons lewe gehad het? Nie noodwendig dié wat doelbewus daarop uit was om ons te beïnvloed nie, maar eerder húlle wat deur hulle dade vir ons tot voorbeeld was. Deur hulle optrede het hulle vir ons rolmodelle geword. In die Christelike lewe is die goddelike invloed meer onbewustelik as bewustelik. Ons weet wanneer Jesus aan die werk is, want daar kom baie keer groot dinge te voorskyn uit iets wat ons as alledaags sou beskou.

“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Kor 12:9).

Oswald Chambers

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css