Die Weg

 

Waarom vrees?

God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?” - Hebreërs 13:5-6.

Watter groter versekering het ons nie in die lewe nie, as dié van God: “Ek sal jou nooit verlaat nie....” Daarom kan ons met vertroue agterna sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie...”  Met ander woorde, ek moet nie toelaat en sal nie toelaat dat vrees my lewe beheers en my gevange hou nie. Dit beteken nie dat ek geen vrees sal voel nie, maar wél dat ek altyd God se woorde van versekering in sulke situasies sal onthou. Ongelukkig begin die meeste mense se geloof wankel wanneer vrees hulle gedagtes oorneem en dan vergeet hulle die betekenis van God se versekering . Hulle vergeet om geestelik diep asem te haal. Die enigste manier om vrees uit 'n mens se lewe te verban is om te luister na die versekering wat God aan ons gee.

Waarvoor is jy bang? Wat is dit wat vreesgevoelens in jou opwek? Om bang te wees beteken nie dat jy lafhartig is nie. Dit gaan net oor die manier waarop jy die vrees benader en hierdie gevoelens hanteer. As jy alleen voel in jou vrees, onthou hierdie woorde: “Die Here is my helper”. Glo dit dan! Aanvaar die Vader se versekering en sê dit hardop sonder om te twyfel: “Ek sal nie vrees nie”. Dit maak nie saak watter boosheid of onreg oor ons pad kom nie, want God self het gesê: Ek sal jou nooit verlaat nie....”

Die menslike swakheid is die één ding wat tussen God se woorde van versekering en ons eie woorde en gedagtes staan. Wanneer ons dink dat ons swak is as ons voor probleme te staan kom lyk die probleme vir ons soos reuse en voel ons soos sprinkane, en dan vergeet ons van God! (Lees gerus Numeri 13:33 en Numeri 14). Maar onthou God se versekering aan ons: “Ek sal jou nooit in die steek laat nie”. Kan ons juig in onse God? Het ek altyd genoeg geloof en moed om te sê: “Die Here is my helper” of is ek uitgelewer aan my vrese?

Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie” (Deut 31:6).

Oswald Chambers

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css