Die Weg

 

Ons is net die saaiers

Ons laat maar die saad val, en die aarde lewer vir ons die blomme en die oes en die vrugte. Sal ons dan 'n groot vertoon maak van die oes, dit vir ons toeëien as ons eie en die vrug van óns arbeid alleen? Dan vergeet ons dat ons maar die saaier was en die arbeider op die akker.

Dan vergeet ons dat dit nie ons is wat in die nietige saadkorrel die lewe en die groeikrag en die uiteindelike vorm van die vrug gelê het nie. Dan vergeet ons dat dit nie ons is wat die aarde in sy wenteling deur die ewige kringloop van seisoene stuur nie; dat ons nie die rus van die winter bring, die lewe van die lente en die vrugbaarheid van die somer nie; dat ons nie die wolke vorm of die winde waarop hulle aangedryf word nie; dat ons nie aan die aarde die vrugbaarheid van 'n moeder gegee het waarin haar menigvuldige kinders ontkiem en groei en aanwas tot krag en vrugbaarheid nie.

Wanneer die droogte dan kom met sy wolklose hemel, die versengende son en die skroeiende winde; wanneer die dienstige vrugbaarheid van die bodem gaan rus op tye wanneer hy gewoonlik lewe gee, dan is dit tyd vir ons om ons eie aandeel aan die daaglikse wonder te meet; dan is dit tyd om te besef dat ons maar 'n saaier is en 'n werker op die akker, in diens van die GROOT LEWE; dan is dit tyd om dankbaar te wees vir die vorige jaar se oes en vir die bloeityd wat jaar na jaar voor die droogte gekom het. En die ware dankbaarheid sal alleen ontstaan wanneer ons tot ootmoed gekom het.

As ons dan slegs 'n saaier in 'n HOËR DIENS is, waarom is ons dan so suinig om te gee van wat nie ons s'n is nie, maar wat ons ook in oorvloed van die lewe ontvang het? Waarom is ons so suinig om te gee, selfs van dié dinge wat niks kos nie en wat nooit opraak nie - liefde en vriendskap en aanmoediging en troos? Want is hierdie dinge nie ook soos die saadkorrels wat op die aarde val nie? Elkeen van hulle dra ook in homself sy uiteindelike vorm en vrug, soos die klein saadjie die magtige boom in hom dra.

As ons dan gee van ons liefde en ons vriendskap en ons troos, is ons maar weer slegs die begenadigde saaiers van die saad van die GROOT LEWE. Die groei en die wasdom en die oes is nie in ons hande nie, en tog deel ons weer mildelik daarin. Want val dié sade in die teelaarde van 'n gees wat honger is daarvoor, soos die aarde honger is vir die saad in die saaityd, dan was dit aan en vermenigvuldig tot 'n goue oes wat weer saad word vir ander akkers.

So kan 'n enkele daad van liefde, van vriendskap of van aanmoediging 'n klimaat berei waarin die ware en die skone en die goeie gedy, en eerlank gee die boom wat uit die klein saadjie gegroei het, die lafenis van sy koelte en sy vrugte aan die vermoeide en honger saaier.

As ons maar onthou dat ons slegs die saad moet saai en met toewyding moet versorg, sal die lewe die blom en die vrug vir ons lewer. Dit is wanneer ons erkenning vra vir wat ons gee, ook van wat ons self onverdiend ontvang het, dat ons ons wese as 'n instrument van die lewe verloën. Want dan verlaag ons onsself tot 'n loonwerker wat sy ure, wat hy ook maar ontvang het, aan die hoogste bieder verkoop, terwyl ons in 'n groter verdienste kon deel deur 'n gewer in 'n HOËR DIENS te wees.

Wanneer ons ons aandeel in die oes verkeerd sien en oorskat, roep ons ons in hooghartigheid uit tot 'n besitter van die blom en die vrug en daardeur skei ons ons van hulle. Dit is eers wanneer ons in nederigheid en in ootmoed dankbaar is vir die kleine aandeel wat aan ons gegun is, dat ons weet ons is self ín die blom en ín die vrug. Dan kan ons ons in nederigheid sien as 'n handlanger van die kringloop van seisoene, van die magtige wolke van die hemel, van die reën en die lewegewende sonskyn, van die winde van die hemel en die vrugbaarheid van die aarde, en ons weet: saam met hulle dien ons, met ons klein daad van saai en werk op die akker, 'n groot en heerlike glorie.

Uit: “Ook die Klein Dingetjies” deur John van der Berg
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css