Die Weg

 

Is alles werklik verlore?

As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?” - Psalm 11:3.

As die fondamente ondermyn word ... Vandag voel jy dalk ook so: geestelike en morele fondamente word ondergrawe. Deur die media, deur vyande van Christus, deur korrupsie, deur swak leierskap, selfs in die kerk deur verwerping van Skrifgesag. Dit voel of die veilige huis van ons gemeenskappe aan die omval is. Nou kan jy ook die raad kry: Gee maar prys, moenie nog probeer keer nie, alles gaan tot niet. Hoe reageer jy dan?

Dawid het volgens Psalm 11 in ‘n situasie beland waar sy raadgewers aanbeveel het: Vlug! Die fondamente is ondergrawe. Die vyand wag net vir die doodskoot. Daar is niks wat jy aan die verval kan doen nie! Lees net sy vriende se bevinding: “Kyk, die goddeloses span hulle boë, en hulle lê aan met die pyl op die snaar; hulle staan reg om uit die donker die opregtes van hart te tref.” (vers 2). Hulle raad is: Vlug weg soos ‘n voël.

Hulle gee dit met goeie bedoelings! Dit klink na goeie raad om jou lewe te spaar, nie waar nie? Maar, dis die raad uit kleingeloof. As Dawid so gereageer het toe Goliat hom gevloek en die God van Israel verkleineer het, sou hy huis toe gevlug het. Maar Dawid het toe geantwoord: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.” (1 Samuel 17:37). En die Here het!

Psalm 11 is ‘n geloofsbelydenis, dat God ons bewaarder en die eintlike vegter teen die goddelose is. Al word die fondamente ondergrawe, al span die boog om die godvresende dood te skiet, is dit nog nie rede om weg te vlug nie. Nee, antwoord die Skrif.

Onthou die volgende waarhede:

* God is almagtig en heers oor alles en almal - Die Here is op sy troon in die hemel! (Ps 11:4)

* Hy sal oor die goddelose oordeel, sodat hulle nie die oorwinning kan behaal nie - Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses (Ps 11:6).

* God haat geweldenaars, maar het regverdiges (gelowiges) lief en beskerm hulle - Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees. (Ps 11:7).

Daarom is vlug en boedel oorgee in ons huidige gemeenskappe, waar die fondamente van reg en geregtigheid ondergrawe word, nie ‘n opsie nie. Ons kan in geloof bly opbou, steeds stry vir die waarheid, nog altyd regverdig en opreg optree, gehoorsaam aan God se wil aanhou goed doen, die goeie nuus van verlossing deur Christus bly uitdra.

Moenie die raad om te vlug aanvaar nie, al lyk die omstandighede hoe negatief. Dit kom uit kleingeloof. God is regverdig en roep ons om teen die ondergrawing van fondamente te stry. Hy gee krag om te volhard. Hy sal die oorwinning gee. Moenie vlug nie, maar hou aan veg vir wat reg is.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 2/6/2014)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css