Die Weg

 

As God die fondamente skud

Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle 'n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het” - Handelinge 16:34.

Daar was 'n man in Filippi met 'n gesin, 'n huis en 'n goeie werk. Hy was naamlik die bewaarder van die tronk in Filippi. Die verantwoordelikhede wat hy moes dra was baie. Sy lewe het heel waarskynlik in geordende bane geloop sonder enige besondere voorvalle – tot een nag. Hy het homself rustig neergelê om te gaan slaap. Teen middernag is hy deur lofliedere gewek. Dan volg daar 'n aardbewing! Die tronk word tot in sy fondamente geskud – en ook sy eie lewe. Die deure vlieg oop en die gevangenes se boeie val los. Soveel vrees pak die bewaarder beet dat hy selfmoord wou pleeg.

Paulus, wat besef het wat besig was om te gebeur, het op hom geskree om homself nie om die lewe te bring nie. Hy en Silas kon hom help. En as die bewaarder dan vra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”, het dit vir die bewaarder gegaan oor sy onmiddellike probleem. Hy sou die doodstraf ontvang as die gevangenes weggekom het. Paulus en Silas hardloop egter nie weg nie, maar hulle bied vir hom die lewe. Hulle gaan saam met hom na sy huis en verkondig aan hom en sy hele huishouding die evangelie van Jesus Christus. Die bewaarder en sy hele familie kom tot geloof en laat hulle daar en dan doop. Ons lees dat hulle vol blydskap was dat hulle God gevind het en in Hom kon glo. God self skud die fondamente van hierdie mense se lewens. Voortaan sal alles nie meer dieselfde wees nie. Vreugde het die huis gevul.

Daar was 'n man in Steyr, Oostenryk. Hy was 'n gesinsman met 'n pragtige huis aan die rand van die stad en twee motors.  Hy was die bestuurder van 'n groot onderneming en het baie verantwoordelikheid op sy skouers gedra. Sy lewe het in geordende bane geloop sonder enige besondere voorvalle – tot een nag.

In die middel van die nag skrik hy wakker, papnat gesweet met 'n skerp pyn in sy bors, hy voel duiselig en sy pols jaag. Sy lewe word ook tot in sy fondamente geskud. Die dokter vermaan hom om sy lewe rustiger te neem, want die lewe gaan op die einde nie oor sy eie prestasies nie, maar oor sy verhouding met God en God se onvoorwaardelike liefde vir hom. Langsaam begin die man begryp: God self skud die fondamente van 'n mens se lewe. Hierdie bestuurder se uitkyk op die lewe het verander en hy het tot inkeer gekom. Voortaan sou alles nie meer dieselfde wees nie. Vreugde het die huis gevul.

P. Fritz Neubacher, Sierning, Oostenryk. (Effens verwerk)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css