Die Weg

 

As tye erger word....

As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in 'n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan?” - Jeremia 12:5

Eintlik gaan dit nog met ons goed ....  Ja, daar is dinge wat nie so goed lyk nie; daar is politieke onsekerhede, finansiële druk, ongeregtigheid wat maar net toeneem. Tog gaan dit nog goed.

Maar om werklik Christen te wees, beteken dat jy ook in die toekoms Christen moet wees. Sal jy dit regkry as die Bybel nêrens meer geduld word nie, of as jy verag word omdat jy jou geloof in God bely?

Jeremia se preke het die volk kwaad gemaak. Hulle wou nie hoor van bekering nie. Hulle wou daarom eerder vir Jeremia doodmaak. Dit maak die profeet heeltemal moedeloos. Hy wou sommer alles laat vaar en moed opgee!

En die Here se antwoord? "As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop?" Dit wil sê Jeremia, jy kla omdat mense jou wil doodmaak ... maar dit is nóg niks in vergelyking met wat later mag kom nie. Nou hardloop jy nog saam met voetgangers. Jy kan nog byhou. As jy egter nou al moeg word, jou geestelike ewewig verloor, hoe sal jy later kan byhou wanneer dinge véél erger word? Néé, moenie moedeloos word nie. Onthou, die Here is by jou! So word Jeremia voorberei vir erger dae wat kom .

Wat sal met jou gebeur as die tye erger word? Nou beleef ons eintlik nog rus en vrede ... maar: as dit nou al te veel gevra is om gereeld Bybel te lees of na 'n preek te luister, wat sal met jou gebeur as donker wolke van geloofsvervolging oor ons hang, soos ons dit vind in die noorde van Afrika en sommige Asiatiese state? As jy nou al kla oor die kruis wat jy moet dra, wat sal gebeur as jou kruis nog swaarder word? As die aanslae van die Bose jou nou al in jou geloof laat twyfel, wat sal gebeur as die versoekinge met alle mag op jou afstorm? As dit nou al so moeilik is om die sonde te haat en te ontvlug, wat sal gebeur as die mense jou eer juis vanweë jou sondes? Wat sal met jou gebeur?

Daarom is vandag vir ons so belangrik; om ons vandag te oefen in die geloof. Daarom moet ons nou reeds die Bybel meer en meer bestudeer, nou reeds al meer op ons Verlosser vertrou, nou reeds ons geloof beleef en uitleef, nou reeds meer bid om krag.

Dan kan ons God elke dag as ons Hulp ken ... en dié wat op Hom wag, kry nuwe krag.

Ja, krag, want Christus het ons mos klaar gekoop op Golgota. Met sy krag word 'n mens nie moeg om selfs teen perde te hardloop nie!

Ds R.G. Aucamp
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css