Die Weg

 

`n Man sonder vrees

(Sien ook vorige twee boodskappe)

“En Hy antwoord: Ek sal met jou wees” - Eksodus 3:12.

Toe die Here vir Moses na die Farao gestuur het, het Hy hom nie alleen laat gaan nie. Ten eerste sou dit vir Moses lewensgevaarlik wees om die Farao, die magtigste man in die wêreld van daardie tyd, te gaan konfronteer. Ten tweede het Moses baie emosionele krag en wysheid nodig gehad om sy man teen die Farao te kon staan. 'n Mens kan dit jou nie indink dat 'n wyse God 'n swak Moses sou opweeg teenoor die Farao en die enorme mag van Egipte nie. Daarom sê Hy: “Ek sal met jou wees” asof dit vanselfsprekend was dat Moses nie alleen sou gaan nie.

Ook in ons geval sal hierdie goue reël geld. As die Here my stuur, en ek vertrou op Sy krag en hou my oë gevestig op Hom en Sy eer, is dit verseker dat Hy met my sal wees. Omdat Hy my stuur, sal Hy my hulp en ondersteuning wees. Is dit nie genoeg nie? Wat meer kan ek vra? Ek sal slaag omdat ek weet dat Hy aan my sy is. Ek moet handel en optree waardig aan hierdie belofte en die roeping waarmee ek geroep is (vgl Efesiërs 4:1). Ek moet nie bang, halfhartig, roekeloos, aanmatigend of verwaand wees nie. Hoe tree die mens op wat weet dat God met hom is? In so geselskap betaam dit my om sonder vrees vir mense God se wil te gehoorsaam en, soos Moses, sonder vrees teen die Farao's van hierdie wêreld op te staan.

CH Spurgeon (19 Junie 1834 – 31 Januarie 1892)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css