Die Weg

 

Kragvolle rus

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” - Matteus 11:28.

Jesus sê: “Kom na My toe....”, waar sonde en hartseer eindig en die lied van die heiliges begin. Kan ek regtig daar kom? Natuurlik, as ek wil, en sommer nou.

Ons het so baie vrae oor die lewe, maar dié wat werklik saak maak is relatief min en dit word beantwoord deur Jesus as Hy sê: "Kom na My toe". Ons Here se woorde is nie, "Doen dit of moenie dat doen nie", maar: "Kom na My toe". En as ek dan na Hom toe kom, sal my lewe en my begeertes in harmonie met mekaar wees. Die sonde sal uit my lewe verdwyn en die lied van die Here sal my lewe vul.

Het jy al ooit na Jesus toe gekom? Kyk diep in jou eie hart. Jy sal dalk liewer enigiets anders doen en jou eie sondige kop volg, as om hierdie eenvoudige, kinderlike stap te neem: "Kom na My toe".

Met hierdie woorde toets Jesus Christus jou hart. Kyk hoe gebruik Hy die woord “kom”. Jy mag op die mees onverwagte oomblik die fluistering van die Here ontvang: “Kom na My toe”. En as jy met jou hele wese sê, “Ja Here, ek kom”, sal jy onmiddellik na Hom toe getrek word. Persoonlike kontak met Jesus verander alles in jou lewe. Wees dan manmoedig genoeg om te kom en jouself te vereenselwig met wat Hy sê. Dit is 'n besluit, 'n wilsdaad van jou om jou sondige weë te laat staan en doelbewus alles aan Hom te onderwerp.

" ... en Ek sal jou rus gee". Dit beteken "Ek sal jou ondersteun en jou sterk laat staan." Hy sê nie: "Ek sal jou in die bed sit, jou hand vashou en vir jou sing totdat jy slaap" nie. Nee, Hy sê in werklikheid: "Ek sal jou uit die bed haal - uit jou lusteloosheid en lamheid, en uit jou half dooie toestand terwyl jy nog steeds lewe. Ek sal jou vul met die gees van die lewe, en jy sal versterk word deur die volheid van My krag." 

Hoe swak en bejammerenswaardig lyk ons nie soms as ons uit moedeloosheid en selfbejammering net gaan lê nie! Waar is die vitaliteit en krag van die Seun van God dan in só 'n lewe? Staan op en kom na Jesus toe.

Oswald Chambers
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css