Die Weg

 

Nie in die winter nie, asseblief!

Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie, want in daardie tyd sal daar so ’n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie” - Markus 13:18-19.

Winter is koud-kry tyd, sneeu en soms oorstromings. Dit ontwrig lewens van mense, veral van gesinne waar kleiner kinders is en swanger vroue. Vir ouer mense sny die koue deur tot in die murg. Baie mense bid die winter verby, want hulle huise maak nie voorsiening vir die koue nie.

Met die koue fronte wat oor Suider-Afrika spoel, dink ek vandag aan Jesus se gesprek oor die groot verdrukking. Hierin sê Hy: “Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie.” (Mark 13:18). Sy gesprek is ‘n antwoord op ‘n dubbele vraag van sy dissipels: “Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?” (Mark 13:4). Jesus het van die Olyfberg af oor Jerusalem gekyk toe sy dissipels met verwondering verwys na die groot bouwerk van die tempel. Toe Hy waarsku dat die tempel vernietig sal word, ontlok dit die vraag oor “wanneer”. Hulle meen dat die verwoesting van die tempel en die voleinding (wederkoms van Christus en oordeel) saam sal plaasvind. Jesus help hulle reg en profeteer oor die twee gebeure.

In die aangehaalde teks word veral gefokus op die swaar tye wat op die wêreld, maar veral op die kerk van die Here wag. Net soos die Jode gely het onder die Romeinse soldate toe Jerusalem in 70 nC vernietig is, wag sulke en veel erger lyding op die gelowiges. Dit sal die tyd van misleiding wees, waarin valse christusse sal opstaan (Mark 13:6). Ook ‘n tyd van oorloë, hongersnood en aardbewings (Mark 13:7-9). Dit is nog nie die einde nie, maar geboortepyne van ‘n nuwe tyd. Die Christen se roeping is om te volhard in geloof en vreesloos te getuig, soos wat die Heilige Gees woorde in die mond plaas (Mark 13:11).

Maar dan kom daar ‘n tyd van vlug! Dit is wanneer die “gruwel” op ‘n verkeerde plek sal staan, soos die altaar vir Zeus wat vroeër in die tempel opgerig is. Met gruwel bedoel Jesus die Antichris, die persoon, in wie valse godsdienstige-, maar ook staatkundige- en geldmag, saamgetrek sal wees. Maar sy eintlike doel is om teen Christus en sy kerk op te staan, omdat hy in diens van die Satan self sal wees.

Soos die Jode moes bid dat die verwoesting van Jerusalem nie in die winter moes wees nie, so moet die kerk bid om genade vir die tyd van die groot verdrukking. Groter as wat ooit op aarde was.

Hierdie gebede sal verhoor word, troos Jesus. Nie net dat gelowiges nie deur die winterkoue vernietig sal word nie, maar ook dat die tyd van lyding ter wille van die uitverkorenes ingekort sal word.

Wees voorbereid – swaar tye wag op die Christene. Wees getroos – God hou die tye in sy hand. Wees vol moed - Niks sal te moeilik wees om te verduur nie, want God beheer ook die winters!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief - 7/7/2014)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css