Die Weg

 

Om jou van binne skoon te maak

Ek het my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort” - 1 Samuel 1:15.

Hanna was só gevul met sorge en verdriet dat die droefheid van haar siel duidelik op haar gesig te sien was. Maar nadat sy haar siel voor die Here uitgestort en van alle bitterheid ontslae geraak het, het die vrede van God in die plek daarvan gekom. Sy het daar weggegaan, geëet en haar gelaat was anders (1 Sam 1:18). Wat 'n verblydende verandering en groot kontras was dit nie! Vir haar en vir haar huis was dit 'n groot verligting!

Is jy so verbitterd dat 'n mens dit op jou gesig kan sien? Miskien het mense jou erg ontstel; of dít waarop jy gehoop het, het nie werklikheid geword nie; of dalk lyk dit vir jou asof die Here jou vergeet het. Moenie dat dit die lewe vir jou onnodig moeilik maak nie, maar gaan stort jou siel uit voor die Here. Skud alles wat daarin is uit in belydenis en gebed. God weet alles, maar vertel dit aan Hom asof Hy nie weet nie. “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons” (Ps 62:8 OAV). “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Fil 4:6).

Terwyl ons die bitterheid in ons siele voor God uitstort, vul Hy dit weer met vrede. Droefheid en trane gaan by die een deur uit terwyl vreugde by die ander deur binnekom. Ons dra ons beker van trane na die Man van Smarte, en Hy gee dit terug aan ons gevul met die seëninge van die nuwe verbond.

Eendag sal jyself, net soos Hanna, terugkom by die plek waar jy gehuil en gebid het, om dáár jou offer van lof en danksegging aan die Here te bring (1 Sam 1:24 – 1 Sam 2:11).

FB Meyer
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css