Die Weg

 

Treur, maar nie sonder hoop nie

Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie..... So sal ons altyd by die Here wees” - 1Tessalonisense 4:13,17 .

Hier op aarde, waarna ook as 'n "tranedal" verwys word, word daar om verskeie redes getreur. Die dood is een van die redes hiervoor. Waar die Prediker die ouderdomsjare in sy aftakelingsproses tot by die dood skets, verwys hy na die roubeklaers wat treurend in die strate rondgaan (Pred 12:5).

Bejaardes het talle kere treurend van hul geliefdes in die aardse lewe afskeid geneem: eggenote(s), kinders, familielede. Die vriendekring van die bejaarde word deur die dood al kleiner en kleiner. Die gelowige treur ook wanneer die dood die verbintenis met die lewe deursny, maar nie soos "die ander mense wat geen hoop het nie".

Die hoop van die gelowige is in Jesus Christus se opstanding en in sy terugkeer veranker. Nadat Paulus die opstanding van Christus beklemtoon het en 'n beskrywing van die gebeure met die terugkeer van Christus gegee het, skryf hy: "En so sal ons altyd by die Here wees" (1 Tess 4:17).

Niemand kan die dood keer nie, maar die dood kan nie keer dat ons altyd by die Here sal wees nie. Ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie, want ons troos in hierdie aardse tranedal is dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe aan my getroue Saligmaker behoort: - ”Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie” ( 1 Kor 6:19) “maar julle behoort aan Christus en Christus aan God” (1 Kor 3:23). Ware troos in die aardse tranedal is dat Christus die dood oorwin het.

Daarom loop die lewe van die gelowige hom nie vas in die ewige dood nie, maar die dood loop hom te pletter in die ewige lewe.

Eddie Tiemensma in “God vergeet jou nooit” - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css