Die Weg

 

Kan jy God vrymoedig as skeidsregter inroep?

“As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie.” - Psalm 17:3.

‘n Ouer persoon het eendag (toe ek nog op hoërskool was) vir my ‘n lewensles geleer, wat in wese aansluit by Psalm 17: “As jy oortuig is dat jou standpunt en optrede in gehoorsaamheid aan God en sy Woord is, bly staan daarby, al val baie mense jou daaroor aan!” Soos wat ek ouer geword het, het ek besef dat ‘n mens jouself kan bluf, dat jý gehoorsaam aan God sou wees en ander mense nie. Jy kan jou soms deur jou eie gees laat lei, in plaas van deur die Gees en Woord van God. Dan kan jou sekerheid oorgaan in arrogansie of hoogmoed, in plaas van nederige gehoorsaamheid aan die wil van God.

Daarom het die woorde van Dawid in Psalm 17:3 my my ore laat spits: “As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie.” Dit is ‘n dapper verklaring teenoor God. Toets my, Here, U sal niks verkeerds by my vind nie! Dawid sê nie hiermee dat hy altyd sonder foute is nie. Nee, in ander psalms bely hy tog sy sondeskuld. In hierdie geval vra hy God se regverdige oordeel in die saak tussen hom en sy onmiddellike vyande. Van hulle sê Dawid: “Sonder enige meegevoel, met monde wat aanmatigende dinge sê, omsingel hulle my waar ek ook gaan.” (Ps 17:10-11). ‘n Mens voel die onreg aan waardeur hy moes gaan.

En ons? Hoeveel kere tref soortgelyke vernederende aanslae jou nie ook nie? Wie sal beoordeel, wie sal ‘n regverdige uitspraak kan gee? Psalm 17 wys die pad na die regverdige Regter toe. Maar dan slegs as jou saak toetsbaar is voor God. Ons kan Hom nie bedrieg nie, niks agteraf wegsteek nie. Hy toets ons harte en motiewe.

Dawid verklaar voor God sy onskuld. Hy het homself reeds getoets: “... ek het my aan u bevel gehou. Elke stap van my was vas op die koers wat U aangewys het. My voete het nie daarvan afgewyk nie.” (Ps 17:4-5). Dit is sekerlik die heel belangrikste toets wanneer jy teenstand kry. Nie jou eie mening nie; nie wat jou vriende of die gemeenskap daarvan dink nie. God se bevele, die koers wat Hy aandui, bepaal jou saak se korrektheid of valsheid. As jy daarvan oortuig is, kan jy met vrymoedigheid God se regverdige oordeel afbid.

Kom ons leef vandag só, vreesloos in gehoorsaamheid aan God, bereid om deur Hom getoets te word. Dan sal jy soos Dawid, in tye wanneer vyande jou onregverdig aanval, die kop kan optel en bid: “Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels.” (Ps 17:8).

Beantwoord eerlik die vraag: Kan jy God met vrymoedigheid as skeidsregter inroep, wanneer ander jou ondergang soek?

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 28/7/2014)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css